Skip to content
Menu

Hebreërs 2:1-4
Lukas 14:15-24

‘Daarom moet ons soveel te meer aandag gee aan dit wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdryf nie.’

DAAROM – HOU DIE OË OP JESUS CHRISTUS

Daarom. Dit is die woord waarmee die tweede hoofstuk van die Hebreër brief begin. In die eerste hoofstuk het die Here ’n kragtige stelling gemaak: Jesus Christus is die openbaring van God. Hy het die Reddingsplan van God voltooi. Na Hom kom daar nie nog iemand nie. Hy is hoog verhewe bo die engele. Waar hulle boodskappers is, is Hy die boodskap. Waar hulle diensknegte is, is Hy die Seun van God. Die Koning wat tot in ewigheid sal heers. En nou kom ’n daarom. Om die rede – moet die Hebreërs nie van Hom wegdrywe nie. In die jare van die jong gemeentes het dit begin gebeur. Die christen kerke is bloedig vervolg. Vir die jong christene was dit nie maklik nie. Om Jesus te volg het vir baie hulle lewens gekos. Die christen vervolging in die Romeinse Ryk was groot. Van die Romeinse keisers het die christene met passie gehaat. Om christen te wees het vir baie mense net te veel gekos. Daarom het hulle die evangelie van Jesus Christus begin verwaarloos. Hulle het begin draai na ander godsdienste toe. So het hulle van Jesus Christus af weggedrywe.

Die groot saligheid

Die Hebreër skrywer praat van ’n groot saligheid. Die woord salig beteken geluk. Die geluk waaroor dit hier gaan het alles te make met ons redding. Die ewige saligheid kry jy as jou skuld van jou af weggeneem word deur die bloed van Jesus Christus.

Moenie hiervan wegdryf nie

Tog gebeur dit dat mense hierdie saligheid van die Here ontvang en dan doelbewus daarvan wegbeweeg. Die kennis is daar. Jy weet wie die Here is en wat Hy gedoen het, maar dan word daar weggedwaal. Dit gebeur wanneer jy die boodskap van die Here hoor, maar dit het geen impak op jou lewe nie. Of wanneer jy begin dink die sonde wat jy doen is nie so erg nie. Die Here het tog daarvoor betaal. So dryf die mens van die Here weg.

Word gedryf deur die Heilige Gees

Die Here roep terug. Die oë moet op Jesus Christus gefokus wees. Die gelowige moet nie van Hom wegdrywe nie, inteendeel deur die Heilige Gees moet hy na Jesus Christus toe gedrywe word. In die praktyk beteken dit – bely jou sondes, verwyder die dinge in jou lewe wat geloofsgroei belemmer en daar waar jy dwaal, keer terug na jou eerste liefde, na die liefde van God.

Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com