Skip to content
Menu

Prediker 5:9-6:9

‘Wie geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie aan rykdom geheg is, van inkomste nie. Ook dit is sinloos…Want hy dink nie baie aan sy lewensdae nie: God laat hom besig bly met wat sy hart verbly.’

DANKBAAR VIR DIE GAWES WAT ONS VAN GOD ONTVANG

Wat is die sin van die lewe hier op die aarde? Dit is die deurlopende vraag van die Prediker. Is daar ‘n rede om te leef? Laas week het ons van ‘n man gehoor, wat nie tyd gehad het vir verhoudings nie. Hy het so hard gewerk. Daar was nie tyd vir God nie. Daar was ook nie tyd vir mense nie. Vandag gaan ons hiermee verder. Nie oor verhoudings nie, maar oor dit waarvoor mense leef. Baie mense soek hulle doel  in die illusie van materiële besittings. Die leuwensleuse vir baie is: Meer is beter. Gierigheid het die oorhand. By ons as kinders van die Here is dit anders. Die Here gee vir ons in sy Woord ‘n ander wêreldbeskouing. Ons verwar nie rykdom met waarde nie. Ons sien ook nie hebsug as ‘n deug nie. Prediker is nie gekant teen rykdom nie. Hy is wel gekant teen die ongesonde strewe na geluk buite God om. Jy kan nie jou belegging ‘n drukkie gee nie. As materiële rykdom jou doel in hierdie lewe is, sal jy eindig met ‘n leë lewe, met geestelike bankrotskap. Hierin praat die Here vanoggend met ons. Want ook in ons gedagtes is daar hervorming nodig. In ons taalgebruik hoor ons dit. Die idee is by baie van ons ook ingeprent – Ek gaan gelukkig wees as ek ryk is. Maar dan hoor ons die wysheid van Prediker. Hy praat van die ‘siek euwel’. Van ‘n groot euwel onder die son. Hy sien  – Materialisme is nie om dinge te besit nie, maar om deur dinge besit te word.

‘n Lewe sonder dankbaarheid is sinloos

‘Wie geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie.’ Dit gebeur so vinnig dat ons geheg raak aan geld. Daar is verskillende maniere om aan geld geheg te wees. Met geld kan jy in die eerste plek ‘n mooi lewe koop. ‘n Lewe op ‘n hoë standaard. Gou word mens daarin geheg. Die tweede is die teenoorgestelde. Jy leef uitermate suinig, dat jy soveel moontlik kan spaar. Deur geld op te gaar, probeer jy jou eie veiligheid koop. Derdens kan jy ook aan geld geheg wees, sonder dat jy enige geld het. Dit as jy verwag dat jou lewe baie beter sal wees met meer geld. Dat dit die doel word. En dan kom Prediker. Om van geld te hou, versot te wees met rykdom – dit is sinloos. Geld maak nie gelukkig nie. ‘n Lewe sonder dankbaarheid is lug en leegte.

‘n Lewe in dankbaarheid is vol vreugde

Prediker sê ook: Wanneer ‘n mens geniet van sy rykdom, is dit ‘n gawe van God. As jy sien dat geld ‘n gawe van God is, dan kan jy ook goed met geld omgaan, sonder om aan geld geheg te ryk. Daarom sien ons geld as ‘n gawe. Dit beteken: Wees tevrede, wees dankbaar met wat jy het. God gee ons baie. Baie meer as waarop ons reg het. Alles wat jy het, het jy van God ontvang. God weet wat jy nodig het. Dank Hom vir die gawes wat Hy gee.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com