Lukas 7:36-50
HK Sondag 51
‘Daarom sê Ek vir jou, haar sondes – en dit was baie – is vergewe, omdat sy baie liefde betoon het. Maar die een vir wie min vergewe word, het min liefde.” En vir haar het Hy gesê: “Jou sondes is vergewe.”
ONS BEDE VIR VERGEWING
Ons as kinders van die Here bid gereeld. En ons gebede lyk meestal anders. Dit is aangrypend om ander mense te hoor bid. Die wese van gebede is meestal dieselfde, maar ander woorde word gebruik. Alle christene bid. Op verskillende manier. Vir verskillende sake. Party bid in algemene terme en gebruik meestal dieselfde woorde. Iemand anders bid baie persoonlik. Sommige is vinnig klaar. Die ander neem sy tyd. Dit is mooi om ander mense te hoor bid. En hoeveel verskil daar ook is, daar is een saak wat meestal ‘n plek in christene se gebede het: En dit is – Vergeef ons ons skulde. Vergeef my my sondes. Die bede vir vergewing gebeur soms bewus en konkreet. As jy skuldig voel oor iets wat jy verkeerd gedoen het en so jou skuld voor God bely, dit met woorde benoem. As jy deur die feit gekonfronteer word dat jy iemand seergemaak het, dan moet jy erken dat dit jou skuld is, dat dit die gevolg van jou woorde en dade is. Of as jy jouself weereens laat verlei het tot iets wat nie reg is nie. Deur swakheid of verslawing. Jy sê dat jy jouself daarvoor skaam. En so bid ons gereeld die woorde… Vergeef ons ons skulde.
Wie dit vir ons leer
Wie leer ons om so te bid? Dit is inderdaad ons Here Jesus Christus. In die vyfde bede leer Hy ons om te bid vir vergewing. Om deurlopend daarvoor te bly bid. Dit is belangrik om te weet wie ons dit leer. Want vergewing is Jesus se besondere bevoegdheid. Hy het daarvoor gekom. Dit is sy doel. Die vrou wat Jesus se voete salf, het alreeds vergewing ontvang. Dit sê Jesus, want anders sou sy nie soveel liefde kon toon nie. Hy bevestig dit met sy woorde – “Jou sondes is vergewe.” Dit is nie die enigste keer wat Jesus die woorde vir iemand sê nie. Dit is die grootste saak op die wêreld – Jou sondes is jou vergewe. God is vir jou genadig.
Wie dit vra
Wie is dit wat bid? Dit is jyself. Jy neem die woorde in die mond. Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Wat doen jy nou eintlik as jy dit bid? Besef jy wat hierdie woorde impliseer? Dit behels dat jy verantwoordelikheid neem. Dat jy jou foute erken. Dat jy jouself aanspreeklik maak. Dat jy jou voor God verootmoedig en jou skuld op jou neem.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com