Skip to content
Menu

Lees: Mattheus 19:16-30 & Mattheus 20:1-16      Teks: Mattheus 20:16       Sing: Ps. 86-1:1,6; Ps. 134-1:4; Ps. 107-1:1,4; Sb. 1-1:5,6,7.

‘So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.’

ONS LOOF GOD VIR SY GOEDHEID

Ons maatskappy werk op die gedagte – As jy iets wil ontvang moet jy iets daarvoor doen. Dit wat jy werd is, dit ontvang jy. Dit is verseker nie verkeerd nie. Dit is net meer as reg, dat jy verdien wat jy doen. Veral in die daaglikse arbeid. Jy word beloon vir dit wat jy doen. ‘n Arbeider is sy loon werd. Dit is belangrik om hier ‘n misverstand te voorkom. Jesus praat gereeld oor die beloning van goeie dade, veral in die bergrede. Maar te gereeld kom die gedagte op dat mense self hulle eie loon in die ewigheid kan verdien. Deur goed te doen verdien jy ‘n plek in die hemel. Ons leer hier in die Bybel dat dit nie so is nie. Goeie werke word deur God in ons gewerk. Goeie werke word deur Christus verdien en dit word op ons name geskryf. Deur sy genade en deur sy goedheid is ons daartoe in staat. Hierdie genade en goedheid van God word aan ons bekend in die gelykenis. Die gelykenis is in die oë van die wêreld algehele dwaasheid.

Aanleiding van die gelykenis

Die aanleiding vir die gelykenis word aan ons bekend in Hoofstuk 19. Nadat die ryk man Jesus verlaat het vra Petrus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan nou vir ons wees? Wat is die uiteinde? Wat beteken dit om ‘n volger van U te wees? Deur die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende ure geroep word om te werk, beantwoord Jesus die vraag van Petrus.

Inhoud van die gelykenis

Met die gelykenis beantwoord Jesus die vraag van Petrus. Wat is die loon vir hulle wat Christus volg? Die loon van hulle wat Christus volg is ‘n lewe in die koninkryk van God. In die gelykenis vertel Jesus hoe Hy te werk gaan. Hy vertel wie daaraan behoort, wie daarin mag werk en wanneer Hy hulle roep.

Aanleiding van die gelykenis

Die bedoeling van die gelykenis sien ons in die laaste vers. ‘Baie is geroep, maar min is uitverkies?’ Jesus vertel hierdie gelykenis sodat ons kan besef hoe bevoorreg ons is om deel te wees van sy koninkryk. Ongeag op watter uur jy deel word hiervan, is dit wonderlik om aan Hom te behoort.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com