Skip to content
Menu

Hebreërs 4:1-11
Genesis 2:1-3
Mattheus 11:25-30

‘Daar bly dus steeds ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van syne.’

DIE BELOFTE VAN RUS STAAN VAS

Die belofte van die rus staan vas. Hebreërs 3 en 4 sluit direk bymekaar aan. Laasweek was die tema –Ingaan in die rus van God. In hoofstuk 3 het ons die waarskuwing gehoor. Moenie dat ongeloof jou van die rus weg hou nie. Nou in hoofstuk 4 hoor ons weer dieselfde boodskap. Ook hier gaan dit oor dieselfde rus. Maar nou word daar van waarskuwing oorgegaan na ‘n kragtige bemoediging. En hierdie kragtige bemoedig is nodig. Ons as gelowiges hoor dit, deurlopend op die pad van volharding. Want deur die sonde is dit vir ons moeilik om te rus. Baie mense het nog nooit geleer om te rus nie. Waarskynlik omdat baie mense nie regtig verstaan wat dit beteken nie. As jy aan rus dink, dan het jy die prentjie van uitslaap op ‘n reënagtige oggend. Of ‘n volgepakte mandjie, waarmee jy lekker piekniek kan hou by die dam. Of ‘n lekker middagslapie op die bank voor die tv. Met ‘n gunstelingprogram daarop, of mooi musiek op die agtergrond. Dit is nie die rus waarvan daar in Hebreërs gepraat word nie. Vir hierdie rus het jy nie verlof by die werk nodig nie. Jy hoef nie daarvoor dam toe te ry nie. Jy hoef nie daarvoor enige geld te betaal nie. Dit is gratis beskikbaar vir almal, elke dag. So was dit al van die begin af. Dit was so in die tyd van die Ou Testament. En dit is ook so vandag. Vandag staan die belofte om die ware rus in te gaan.

Die beskikbaarheid van rus

Die woord rus beteken om op te hou of om met iets te stop. Rus in die konteks van Hebreërs 4 beteken om te stop met die sonde. Ten volle sal ons dit eers kan doen in die ewigheid, maar nou alreeds word ons van die sonde deur Jesus Christus gered. Dit is duidelik in sy oproep aan ons uit Mattheus 11:28 – ‘Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.’ Die rus is beskikbaar.

Die fondament van rus

Wat is die fondament van die rus waarvan Hebreërs 3 praat? Die fondament vind ons in die begin van die Bybel. Genesis 2:2 – ‘En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.’ Die rus is ‘n Godgegewe rus. Ware rus is daar waar vrede met God is.

Die opdrag om te rus

Laat ons ons dan beywer om in te gaan in die rus (Hebreërs 4:11). Die opdrag sluit aan by die woorde van Jesus uit Mattheus 11. Daar rig Hy die opdrag aan almal. Die hele wêreld verkeer in ‘n staat van sonde, van onrus. Almal word opgeroep om tot rus te kom by Hom. In besonder geld dit vir ons sy gelowige kinders.

Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com