Skip to content
Menu

Lees: Mattheus 2:13-23        Teks: Mattheus 2:13         Sing: Ps. 33-1:1,6,11; Ps. 77-1:1,7; Ps. 81-1:11,12; Ps. 48-1:1,5.

‘Die sterrekenners het teruggekeer, en kyk, daar het ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar tot wanneer ek jou opdrag gee; want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.’

ONS KONING SE VLUG NA EGIPTE

Aan die einde van ‘n heerlike dag, mag ons weer hier bymekaar wees. Feestelik het ons saam met soveel ander vandag gesing: Ere aan God, in die hoogste en vrede op aarde. Maar met die musiek in die ore hoor ons nou die volgende: Maak gereed en vlug. Dit is die volgende woorde wat Josef na die geboorte van Jesus hoor. Bokant Betlehem pak die onweerswolke saam. Dit dreig, al besef niemand dit al op daardie oomblik nie. Vir ‘n kort tydjie was die hemelse glans sigbaar in die dorp. Singende engele, vrolike herders en knielende sterrekenners. Maar as die duiwel êrens hemelse lig ontdek, dan is hy daar. Om die lig uit te doof en die ligdraer te vernietig. Hemelse lig roep duiwelse woede op. So sien ons vir Herodes. Instrument in die hand van die duiwel. Sy aksie is verbysterend. Die wrede koning laat sy prooi nie los nie. Alle seuntjies van twee jaar en jonger word vermoor. As jy dit lees laat dit jou yskoud.

God gee houvas

Josef word deur God vasgehou in hierdie tyd. Dit lê in die woorde:  ‘Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte’. Josef het dit nie self beplan nie. Hy het nie strategies te werk gegaan en ‘n plan beraam nie. Nee, dit is die engel wat die opdrag gee. Presies op tyd. God voorsien. Hy weet wat gaan gebeur. Sy plan gaan nie skipbreuk ly deur een dodelike skoot van die vyand nie. Die boodskap van die engel is ‘n bewys van God se leiding. Die Here is in beheer. Mattheus toon selfs aan: God vervul op hierdie manier selfs wat in die profete gesê is. God vervul sy beloftes, selfs in die donkerste tye. God se Woord gee duidelikheid. Dit is ons houvas.

Die profete word vervul

Mattheus maak duidelik. Die Kind wat gebore is. Hy is die Gesalfde van God. Daarom toon hy die profesieë aan wat in vervulling gaan. Daar is die profesie van Hosea: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” God roep uit die magsgebied van die satan. Sodat daar ‘n volk vir God bestaan. So ook die profesie van Jeremia: “’n Stem is in Rama gehoor, ‘n droewige gehuil en ‘n luide rouklag; Ragel huil oor haar kinders, en sy weier om vertroos te word, omdat hulle nie meer daar is nie.”

Ons ontvang redding

Die geskiedenis van Jesus se vlug na Egipte en die kindermoord in Betlehem is ‘n donker stuk geskiedenis. So kry Kersfees ‘n ander lading. Wie die verhaal hoor en die Woord van God verstaan, sien die duiwelse woede wat deur die hemelse lig opgeroep word. Hy sien Jesus wat ons lewens op Hom neem.

Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com