Vooraf:
- LB 353:1,2 en 3 “Die Heiland is gebore”
- LB 344:1,2 en 3 “O die goeie tyding”
- LB 358:1,2 en 3 “Somer Kersfees”
- LB 348:1,2 en 3 “Stille nag”
Lees: Sagaria 9:1-10 & Lukas 2:8-20 Teksvers: Sagaria 9:9 Sing: Ps. 68-1:9,12,15; Ps. 2-1:4,6; Sb. 4-6; Ps. 147:1,2,7.
‘Juig, dogter van Sion! Jubel, dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou toe: Hy is regverdig en die oorwinnaar; Hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkiemerrie.’
KYK, JOU KONING KOM – NEDERIG EN REGVERDIG
Die hele wêreld ken die krip. En die hele wêreld verbind die krip met Kersfees. Ook al weet byna ieder en elk dat dit maar ‘n gewone voerbak vir diere was. Tog laat die woord krip mens dink aan die wieg van die Here Jesus Christus. Die beeld spreek mense aan. Die klein Kind wat in growwe hout bak lê. Vir baie ‘n mooi verhaal om te hoor. Maar jy sien ook direk meer dinge raak. Die Kind: so kwesbaar, so afhanklik, as baba al slagoffer van allerlei politieke en sosiale kragte. So word Christus gebore in ‘n wêreld waarin sekere mense belangriker is as ander. As jy bietjie dink dan is die oomblik van geboorte alles behalwe mooi. Dit was glad nie normaal nie. As jy in die laaste dae van jou swangerskap is, gaan jy nie ver van jou huis af weg nie. As die kindjie oppad is, wil jy tog graag op ‘n rustige plek wees vir die bevalling. By die geboorte van Jesus is dit nie die geval nie. Ordentlike verblyf is nie beskikbaar nie. Dit moet maar daar in die skuur gebeur. Die Kindjie moet maar in ‘n bak gelê word. Armsalig en nederig in ‘n krip. So word ons Koning gebore. Soos dit reeds jare vantevore geprofeteer is. Nie in ‘n majestueuse paleis in Jerusalem nie. Nee in die stal van ‘n herberg in Betlehem.
Hy is nederig en ry op ‘n donkie
Sagaria het geprofeteer. Juig, dogter van Sion! Jubel, dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom. Maar hoe gaan dit gebeur? Watter Koning het die volk verwag? Wat is ons verwagting van Jesus Christus? Dat die Koning in Sagaria 9 Jesus Christus is word vir ons later bevestig met die geskiedenis van die intog in Jerusalem. Daar ry Jesus Jerusalem binne op die rug van ‘n donkie. Die rydier word uitsluitlik genoem om die persoon wat daarop ry te karakteriseer. Hier word reeds twee eienskappe van Jesus genoem – sy geringheid en vredeliewenheid. In die ryk van die Messias is daar nie plek vir perde, oorlogswaens en ander oorloginstrumente nie. Nee – Hy is nederig en ry op ‘n donkie. Sy geboorte getuig al van sy nederigheid.
Hy is regverdig en die oorwinnaar
Koning Jesus se lewe bewys dat Hy nie besig is met menslike uiterlike dinge nie. Hy is die waarheid en daarom ook die eenvoud. Die Waarheid hoef nie verfraai te word nie. Hy is regverdig en die oorwinnaar. Hy oorwin nie met geweld nie. En tog is dit Hy wat vrede aan die nasies verkondig. Sy koninkryk gaan nie oor uiterlik mag en skoonheid nie. Die krip is van gewone hout gemaak, so ook die kruis. Kyk, jou Koning kom na jou toe!
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com