Jesus Christus is die Bruidegom van sy bruid wat méér moet word, en ék mínder.
Een van die besondere kenmerke van die Woord van God is die beeldryke taal. ‘n Beeld word dikwels gebruik sodat ons maklik iets kan verstaan en kan te onthou, of dan moeilike konsepte meer konkreet en eenvoudig te stel. Die Woord van God gebruik heelwat pragtige- en effektiewe beelde. Een van die beelde wat heel moontlik die bekendste onder ons is en sekerlik baie mooi is, is die beeld van die bruidegom en die bruid. In Johannes 3:29 kry ons hierdie beeld, maar by hierdie hierdie beeld kry ons ‘n ander betekenis of nuanse. Ons lees nie net van die bruidegom en die bruid nie, maar ook van ‘n vriend (strooijonker) van die bruidegom. ‘n Vriend wat namens die bruidegom die seremonie reël en met blydskap die bruid en bruidegom bymekaar bring.
Jesus Christus is die Bruidegom van sy bruid
Daar het ‘n woordestryd tussen Johannes se dissipels en ‘n Jood oor die seremoniële reiniging (die doop) ontstaan. Ons nie weet waaroor hulle gestry het nie, maar ons lees van die probleem wat hulle vir Johannes die Doper uitwys. Hulle sê (Joh. 3:26): “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, die Een van wie u getuig het – kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe.” Johannes se dissipels was baie kwaad en jaloers op Jesus gewees. Hulle kon nie verstaan waarom Jesus besig was om doop en groot skare mense na Hom toe gaan nie. Hier is waar Johannes hulle onkunde en ongelukkig aanspreek. Hy doen dit deur aan hulle te herinner dat hy nie sy plek vergeet nie. Hy is nie die Christus nie, maar hy is die een wat voor Hom uitgestuur is. Johannes se werk was om oor die Messias te getuig (bv. Matt. 3:11; Joh. 1:29). Om sy plek en roeping te illustreer, gebruik Johannes die bleed van die bruidegom en die vriend. Hy, die vriend van die Bruidegom, het die bruid (Israel) voorberei vir die koms van die Bruidegom. En wie is hierdie Bruidegom? Dit is Christus, die Bruidegom van die bruid. Met ander woorde, Christus staan nou sentraal en Johannes nie meer nie. Hy het sy dienswerk voltooi.
Jesus Christus moet méér word, en ék mínder
Daar is ‘n noodsaaklike opdrag in die beeld van die bruidegom en die vriend opgesluit. Die opdrag is dat Christus moet méér word, en ék mínder. Christus moet méér word, want Hy is God en Hy as Bruidegom is weer oppad. Ek, sy vriend, moet mínder word, sodat ek in nederigheid en gehoorsaamheid sy bruid (kerk) sal voorberei en verlangend na sy koms sal uitsien.