Deuteronomium 6:1-9
Efesiërs 6:1-4
‘Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.’
ONS NEEM DIE KINDERS SAAM…
Geloof? Baie mense vandag dink dat dit ‘n keuse is wat jy moet maak. Daar is meerdere opsies waaruit jy kan kies. Ek moet op ‘n punt besluit of ek ‘n moslem, hindoe, boeddhis, ateïs, christen of iets anders wil wees. Dan dink ek het die meeste van ons nie in die konteks grootgeword nie. In die meeste van ons huise is die christelike geloof vanselfsprekend. Maar ook ons, wat bevoorreg is om in gereformeerde huise op te groei, word êrens in die lewe gekonfronteer met die feit, dat daar mense is wat anders oor die lewe dink. Wat geloof as ‘n keuse beskou. Jy kan kies wat jy wil glo. Op ons skole word dit telkens meer ‘n tendens. Ons kinders word hierdeur geraak. Dit sal so wees met ‘n owerheid wat die filosofie van menseregte en geloofsvryheid in die harte van die kinders wil inprent. Dit is nie wat die Here vir ons in sy Woord leer nie. In die Woord hoor ons – Daar is net een ware geloof, want daar is net een ware God. Pragtig en kragtig staan dit in Deut. 6:4,5 – “Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen. Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag.”
Die Woord ingeprent
‘En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra.‘ In die Ou Testament sien ons dat God spesiaal aandag vra vir die kinders. Die ouers moet hulle kinders leer wat dit beteken om God lief te hê. Deurlopend moet hulle hieraan herinner word. Ouers moet hulle kinders die liefdesgebod inprent. Dit is nie iets wat geforseerd gebeur nie. Dit gebeur as daar duidelik en helder daaroor gepraat word. As dit in huise geleef word. Sodat dit diep deurdring tot die kinders. Indruk op hulle maak en hulle verander. So word die Woord van die Here ingeprent.
Met hart, siel en krag
Dit wat ons ons kinders leer, moet nie net in die verstand sit nie, maar veral ook in die hart. Moses beklemtoon dit – ‘…wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra.’ Dit het te make met die werk van die Gees, wat die Woord in die harte van ons en ons kinders bevestig. “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf.” (Jer. 31:33) Die evangelie skiet wortel in ons harte. As dit gebeur kan ons die Here dien met hart, siel en krag.
‘n Gebod met ‘n belofte
In Efesiërs hoor ons dit is ‘n gebod met ‘n belofte. Dit is sekerlik een van die grootste vreugdes in hierdie lewe. Om verbondskinders te ontvang wat deel in die geloof. Kinders wat hier aan ons sorg toevertrou is. Kinders saam met wie ons tot in ewigheid mag leef.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com