Lees: Hebreërs 12:1-13; Teks: Hebreërs 12:1,2 Sing: Ps. 97-1:1,6,7; Ps. 25-1:2,6; Sb. 10-1:1,2,3,4; Ps. 89-1:1,2,18.
‘Daarom, terwyl ons ook so ‘n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof…’
Volg en volhou!
Die wedloop moet gehardloop word. Hier word van sport gepraat in die Woord van die Here. En dan word dit bedoel as metafoor. As beeld vir die geloofslewe. Hierdie beeld het Paulus meerdere male gebruik in sy briewe. Dit is nogal besonders dat hierdie voorbeeld hier gebruik word, want die meeste Jode het hulle nie aan sport gesteur nie. Maar Paulus en die Hebreër skrywer, huiwer nie om dié voorbeeld te gebruik nie. Alles behoort aan die Here, ook sport, en daarom gebruik hulle vrymoedig hierdie beeld. Hiermee word die mense en ook ons vandag direk aangespreek. Die Here praat met ons in ‘n taal wat ons verstaan. Hy gebruik sport taal. Daardeur dring die evangelie deur in die kultuur, dit sluit aan en konfronteer, die daaglikse praktyk waarin mense hulleself bevind.
Ons voorlopers – die wolk van getuies
Om ons te bemoedig op hierdie pad, word aangetoon, dat ons nie alleen hierdie pad wandel nie. Die stadion is vol toeskouers wat ons aanmoedig. Hulle van wie hier gepraat word, is die wolk van getuies. Hulle het ons rondom ons. Dit is nie maar net sommer mense nie, dit is hulle wat die wedloop voltooi het. Hebreërs 11 noem van hulle by die naam. Daar word gepraat van mense soos Noag, Abraham en Moses. Ook dink ons aan ons eie voorouers wat die wedloop van die geloof voltooi het.
Ons volharding – die navolging
Nou is dit ons beurt om die wedstryd te loop. Vir niemand op aarde is hierdie wedloop al voltooi nie. Die hardloper onderweg na die hemelse heiligdom swoeg hier op die aarde in sy sweet. Waaraan word hierdie wedloop geken? Aan die stryd teen die sonde. Dit is die sonde wat jou afrem, wat jou laat struikel. Dit verhoed dat die renbaan na die hemelse heiligdom, na die stad wat nie deur mense gebou is nie, nie voltooi word nie. Sonde is alles wat jou aflei van volmaakte toewyding aan God.
Ons Voleinder – Jesus Christus
Die wedloop kan alleen gewen word as daar deurlopend gefokus word op die groot Voorloper en Afrigter – Jesus Christus. Hy staan aan die begin en die einde. Hy is die Voorman en die Voltooier van die geloof. Hy is die Wegbereider. Hy is die doel van ons bestemming. Aan die einde van die wedloop wag Hy vir ons. Daar waar Hy plek ingeneem het aan die regterhand van God. Daarom moet gelowiges nooit Jesus uit die oog verloor nie. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe.
Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com