Die krag, karakter en kern van die tong
Die tong is ‘n belangrike orgaan van die liggaam, nie waar nie? ‘n Klein ledemaat in die mond vir ons smaak, sluk en nog meer: ons spraak. Hoewel die tong baie klein is, is dit ‘n kragtige gawe, maar ook ‘n gevaarlike wapen. Deur die tong kan ons dinge sê ten goede, maar ook dinge ten kwade.
Jakobus 3:1-12 onderrig ons om te alle tye volle beheer van onsself te hê. Ongelukkig is dit nie altyd so nie, veral as dit by ons woorde kom, naamlik die tong. Die tong word in Jakobus 3:1-12 – en meestal regdeur die Skrif (bv. Ps. 34:13; 50:19; Spr. 12:19; Matt. 15:11,) sterk negatief uitgebeeld. Die tong is een van die menslike dele wat ons dikwels laat struikel, want dit is onbeheerbaar en kan groot sonde meebring, soos bv. valse getuienis (HK Sondag 43) waarop ons vanaand gaan fokus.
In die prediking gaan ons stilstaan by: die krag, die karakter en die kern van die tong.
Die krag van die tong
Die tong is ‘n klein ledemaat, maar kragtig (Jak. 3:3-8). Jakobus omskryf die krag van die tong met drie daaglikse voorbeelde: (1) stange in perde se bekke, (2) ‘n klein roer van ‘n skip en (3) ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot hoop hout aan die brand steek. Hoewel die tong baie klein is, kan dit die hele liggaam van die mens beheer en groot verwoesting meebring, selfs aan ons eie liggaam.
Die karakter van die tong
Weens die sondeval het die tong ‘n tweestrydige (dubbelhartige) karakter (Jak. 3:9-10). Met die tong eer ons die Here, maar met dieselfde tong vervloek ons mense wat na sy beeld en gelykenis geskep is. ‘n Tong met ‘n tweestrydige (dubbelhartige) is volgens Jakobus (onder leiding van die Heilige Gees) nie reg nie. Gelowiges spreek nie seëninge en terselfdertyd vloeke uit nie. Jakobus illustreer die onmoontlikheid van so ‘n teenstrydigheid (Jak. 3:11-12): ‘n springfontein kan nie beide vars en bitter watter uitborrel nie; ‘n vyeboom kan nie olywe dra nie.
Weens die krag en tweestrydige karakter van die tong moet ons op pas om dan leermeesters van die Woord te word (Jak. 3:1; 6c). Een gebied waarin leermeester struikel is wat hulle sê. Nietemin, ons tong kan ons onder die beheer en krag van die Heilige Gees bring (Joh. 16:13-15), sodat ons die kern van die tong kan uitvoer.
Die kern van die tong
Die kern van die tong was nog altyd om die Here én ons naaste te eer. Dit sien ons veral in die negende gebod en ook die verklaring daarvan in Sondag 43. Die negende gebod openbaar en gebied dat ons tong altyd die waarheid moet koester en liefhê. As ons Jesus Christus, wat self die Waarheid is (Joh. 14:16) en die waarheid aan die kruis laat seëvier het (Joh. 19:30), liefhet, sal ons nie anders kan as om altyd die waarheid te spreek nie. Deur Christus en die krag van die Gees kan ons die kern van die tong gehoorsaam en uitleef.