Skip to content
Menu

Hebreërs 13:7-21 Openbaring 1:9-20

‘Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid.’

JESUS CHRISTUS DIESELFDE TOT IN EWIGHEID

Alles verander! Alles moet verander. As jy in die samelewing kyk, dan sien jy dat dit gebeur. Nuut is goed. Verandering is nodig. Die wêreld verander gedurigdeur. En dus, is baie mense van mening, dat dinge in die kerk ook moet verander. ‘n Ander liturgie – orde in die erediens. ‘n Ander manier van preek. Ander liedere. ‘n Ander aanpak van wie in die amp mag dien. Ons sien dit binne in ons eie kerkverband. Nog ‘n paar jaar gelede sou dit saak maak waar jy in ‘n Gereformeerde kerk in stap nie, dit sou dieselfde wees. Vandag is dit nie meer so nie. By baie is daar verandering. Ons eredienste en die van ander gemeentes is nie meer dieselfde nie. Daar word anders gepreek, die nagmaal word anders gevier, daar word ander liedere gesing. Alles verander, die kerk moet nie agterbly nie. Dit veroorsaak groot stryd, binne ons kerkgemeenskap. Maar – In ‘n wêreld waar alles verander, verander ons Here Jesus Christus nooit. Hy is die Alfa en die Omega. Die eerste en die laaste. Gister en vandag is Hy dieselfde. Hy sal dit bly tot in ewigheid.

Jesus Christus is onveranderlik

Die Woord getuig daarvan. Op meerdere plekke word dit bevestig. In ons belydenisse klink dit ook duidelik. Die Seun, Jesus Christus, is ongeskape, Hy is ewig, Hy is almagtig. Hy is die Eerste en die Laaste. Hy is die belangrikste, die hoogste. Vir elkeen van ons is dit verseker so. En hierdie Jesus was deur die loop van jou lewe daar. Hy was daar toe jou lewe begin het. Hy is ook daar by die einde. Ook by die uiteinde van die bestaan hier, want Hy is ook die Laaste. Jesus Christus die onveranderlike is in beheer.

Die mens is veranderlik

In al twee gedeeltes wat ons gelees het, sien ons dat die mens veranderlik is. Die Hebreërs het volgens die evangelie van Christus geleef, maar van hulle het van Christus begin wegdwaal. Hulle het teruggekeer na die ou Joodse gebruike toe. Ook in Openbaring word dit duidelik. In Openbaring hoor ons van die 7 gemeentes. Jong christen gemeentes wat deur Christus besoek word. Die meeste van hulle word hard aangespreek, want hulle het van Christus weggedraai, na die wêreld toe.

Die kerk as teenkultuur

Die mens verander. Jesus Christus is onveranderlik. Deur Hom moet ons verander word. Deur Hom moet ons gevorm word. En op basis hiervan is die kerk teenkultuur in die wêreld. Elke kultuur, orals waar mense bymekaarkom, sal die duiwel misvorm. Daarom gee die Here sy kerk die opdrag om as teenkultuur op te tree.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com