Skip to content
Menu

Psalm 19

‘Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, HERE, my Rots en my Verlosser.’

TWEE BOEKE WAARDEUR ONS GOD KEN

Psalm 19 is ’n pragtige gedeelte in die Woord van God. Koning Dawid sing ’n loflied oor die Here. Hy getuig van die grootheid van God. Hy sing hoe ons God ken. Dit sien ons duidelik in die psalm. Want hoe ken ons God? Hoe weet ons dat Hy daar is? Ons weet dit op twee maniere. Deur middel van twee boeke maak Hy Homself aan ons bekend. Deur die skepping en die Woord. Skriftuur en natuur. Ons bely dit ook in die Nederlandse geloofsbelydenis, artikel 2. Ons ken God op twee maniere. Eerstens deur die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. En tweedens deur die Woord. Die Bybel wat ons hier het. So ken ons God. Nie op ’n ander manier nie. Daarvan sing koning Dawid in Psalm 19. Want toe was dit ook al so gewees. Hy verheug hom in die natuur. Hy verbly hom in die skriftuur.

Die skoonheid van die skepping (vers 1-7)

In digterlike taal word die skepping deur koning Dawid beskryf. ‘Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.’ Die taal van die natuur is onhoorbaar. In stilte gebeur alles soos wat die Here dit wil. Die mens staan verwonderd voor die skoonheid daarvan.

Die waarheid van die Woord (vers 8-11)

In ses frases word die Woord van die Here beskryf – dit is volmaak; dit is gewis; dit is reg; dit is suiwer; dit is rein; dit is waarheid. Die Woorde van die Here is begeerliker as goud en soeter as heuning. Die Woord van die Here is Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het. Al hierdie woorde beskryf presies wie Hy is.

Die goedheid van die geregtigheid (vers 12-15)

Ons leer God ken deur sy natuur en sy Woord. Ons sien sy goedheid daarin. Juis daarin dat ons hierin mag deel. Dit kan net deurdat ons regverdig is voor God. Net deur geloof leer ons die Here ken en geloof kom deur geregtigheid. Daarom sing ons saam met koning Dawid – Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart aanvaarbaar wees voor u aangesig, o Here, my rots en my verlosser!

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com