Skip to content
Menu

Josua 24:1-28

‘Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk…’

EK EN MY HUIS, ONS SAL DIE HERE DIEN!

Ek en my huis, ons sal die Here dien. ’n Kragtige belydenis. Bekende woorde. By baie huise se ingange staan dit by die voordeur. Woorde wat sê dat die Here hier regeer. Dat hierdie huis in sy diens staan. ’n Aangrypende teks. Hierdie woorde raak die kern van ons geloof. Josua plaas die fokus hierop in die laaste gesprek wat hy met die volk het. Op sy oudag beklemtoon hy dit. Hy stel die volk voor die vraag. Gaan julle die Here dien? En dit gaan vir hom oor die erns van die saak. Is die volk ernstig oor hulle geloof? Want die almagtige God vra alles. Hy wil dat jy Hom met jou hel hart, met jou volle verstand, en alles wat jy het dien. Jou hele ingesteldheid moet Godgerig wees. Josua hamer op hierdie feit. Hy ken die volk Israel. Die een oomblik dien hulle die Here, en die volgende oomblik vergeet hulle weer van Hom. Die erns ontbreek. Hierby staan ons vanoggend stil. Want die vraag wat Josua aan die volk stel, word net so direk aan elkeen van ons gestel.

Die belofte gemaak

Op sy ou dag roep Josua die volk Israel bymekaar. Hy belê ’n volksvergadering in Sigem. Op hierdie plek plaas hy die volk Israel voor ’n keuse. Hulle moet kies. Of die almagtige God, of die afgode van die land. Josua self belowe, dat hy en sy gesin die Here ten volle sal dien. Die volk maak die belofte. Hulle sê: Ons wil die Here dien.

Die belofte gebreek

Josua vra of hulle seker is dat hulle die belofte wil maak. Sy rede – dit is ’n ernstige belofte en die volk kan nie trou bly aan dit wat hulle sê nie. Israel het die belofte kort hierna gebreek, en keer op keer gebeur dit vandag nog deur kinders van die Here. Die belofte is dat ons die Here ten volle sal dien. Hoe gereeld gebeur dit dat daar van ons kant af gebreek word?

Die belofte bevestig

Deur Jesus Christus word die belofte vir ons bevestig. Waar ons tekortkom in ons trou teenoor die Here, het ons ’n Verlosser wat vir ons instaan. In sy dade sien ons die erns van ons godsdiens. Hy het met sy kosbare bloed betaal vir jou. Met die wete kan jy nie die Here halfpad dien nie. Daarom bely ons met oorgawe: Ek en my huis, ons sal die Here dien!

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com