Markus 1:9-11
Johannes 1:29-34
OOR JOU VERHEUG EK MY!
Die doop van Jesus Christus
‘In daardie dae het Jesus vanaf Nasaret in Galilea gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. Net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos ‘n duif op Hom sien neerdaal. En ‘n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!”
Sien God die Seun
Van oraloor is daar mense wat daar Johannes gedoop wil word. Jesus staan ook in die ry. Aangrypend dat Hy dit doen. Hy identifiseer Hom met sondaar mense wat bely dat hulle ‘n nuwe lewe moet begin. Maar Jesus het nooit sonde gedoen nie? Hoekom moet Hy gedoop word? Dit is tog geheel en al onnodig? Jesus self antwoord hierop. “Laat dit nou toe, want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.” (Matteus 3:15) Geregtigheid behels dat jy met jou hele lewe doen wat God vra. Die doop van Jesus deur Johannes, is ‘n verwysing na dit wat by die kruis gaan gebeur. Onskuldig sal Jesus daar betaal vir ons sonde. In lyn hiervan sien ons sy doop. Sonder sonde word Hy hier reeds gedoop. Hierdie doop is teken dat Jesus sterf vir ons sonde. Hy is een van ons, en ons is een van Hom. “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.”
Sien God die Heilige Gees
‘Net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos ‘n duif op Hom sien neerdaal.’ Die doop is die deur na die nuwe werklikheid: die hemel op aarde, God se koninkryk, ‘n nuwe skepping. Dit is teken van ‘n lewe waar alles nuut is, waar God weer by die mense woon, waar sonde nie meer aantrekkingskrag het nie, waar daar intiem saam met die drie-enige God geleef word. By die doop van Jesus sien ons die Gees in die gedaante van ‘n duif. Dit laat ons terugdink in die Woord: (1) In die begin by die skepping en ook (2) die nuwe begin na die sondvloed. Die Gees wat op Jesus en op ons rus is die Gees van vrede, suiwerheid, eenvoud, sagtheid, wysheid, onskuld en versoening.
Sien God die Vader
Ons sien ook die Vader in hierdie gedeelte. En ‘n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!” Hy roep uit vol onvoorwaardelike liefde. Dit is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. In jou vind Ek vreugde. Jesus het op die punt nog nie met sy werk begin nie. Maar reeds nou al bevestig die Vader wie Hy is. Die doop is ‘n bewys daarvan. Die hemel staan oop vir Jesus die Seun van God. Deur Christus mag ons dit ook so hoor as kinders van die Here. Die Vader vind vreugde in ons.