Lees: 1 Korinthiërs 1:18-2:5 Teksvers: 1 Korinthiërs 1:30 Sing: Ps. 68-1:1,9; Ps. 69-1:1,3,8; Sb. 1-1:1,2,3; Sb. 1-1:6,7; Ps. 23-1:3; Ps. 116-1 (aan tafel); Ps. 67-1:1,2,3.
‘Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding. Daarom, soos daar geskryf staan: Wie hom op iets wil beroem, moet hom beroem op die Here.’
BEROEM JOU OP DIE HERE
God draai alles om. Wie eerste is word laaste. Die mense waarop neergekyk word, kry die belangrikste plekke in die koninkryk. Wie homself verhoog, sal verneder word. En wie homself verneder sal verhoog word. Dit lyk amper soos ‘n omgekeerde wêreld. God werk gereeld met hierdie soort teenstellings. Wie arm is, word ryklik geseën. Wie honger en dors het, kry genoeg. In die stuk wat ons gelees het laat die Here ons dit sien met wysheid en dwaasheid. ‘Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie?’ (vers 20) Wat is nou vir die wêreld so dwaas van die kruis? Waaroor gaan hierdie omgekeerde wêreld? Oor die Seun van God, sy Geliefde wat verstoot word. Hy die Seun van God word ‘n kneg. Hy die Allerheiligste, word deur mense vervloek. Die eerste word laaste. Hoekom? Sodat jy en ek, wat onheilig deur die sonde is, daarvan bevry word. Wat se lewens doelloos is, in Hom weer sin kry. Ek was onheilig, sondig en gebroke, maar God red en herstel my. Die laaste word eerste. Vir iemand wat net met sy verstand redeneer, is dit dwaasheid. Dat God dit sommer vir jou doen. Dat jy sy liefde kry, sonder dat jy iets daarvoor hoef te doen. Dat Hy oorwin, deur te verloor. Dat Hy sterf en leef. Deur die geloof sien ons hoe anders die Here te werk gaan. Die boodskap van die kruis vir baie dwaasheid, maar nie vir ons sy kinders nie. In nederigheid beroem ons op die Here.
Soek nie roem in die wêreld nie
Paulus skryf hier aan ‘n gemeente in die Griekse kultuur. Met al hulle filosowe, wysheid en redenaarsvermoë. Dit was vir hulle baie belangrik. ‘n Filosoof was iemand met aansien. Mense kyk op na jou as jy jou gedagtes toepaslik en goed kan verwoord. Maar al hierdie wysheid is by die Here oorbodig. As jy jouself hierin wil vind, mis jy die punt. Daarom skryf Paulus vir hulle: ‘Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het, het ek nie gekom om met verhewe woorde of wysheid God se geheimenis aan julle te verkondig nie. Ek het besluit om by julle van niks anders te weet nie as van Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Daarby het ek in swakheid na julle toe gekom, vol vrees en bewing.’
Vind wat vir God belangrik is
Dit is die doel. Om op God afgestem te wees. Nie wat jy dink, voel of doen nie, maar wat God wil en wat God doen. In vers 30 sien ons wat vir ons lewens belangrik is – ‘Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding.’
Sodat jou identiteit in Hom kan wees
Paulus was vir die Jode ‘n Jood en vir die Grieke ‘n Griek. Hy het wysheid en retorika gebruik, hy het nie gehuiwer om magtige wonders in Jesus se naam te doen nie. Maar nie vir ‘n oomblik is hy skaam om die dwase middel van verkondiging te gebruik nie. Uiteindelik gaan dit oor die inhoud. Dit gaan oor Christus. Nie Paulus, of ek of jy nie, maar Christus moet sigbaar word. Ons identiteit vind ons in Hom.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com