1 Korinthiërs 1:10-17
1 Korinthiërs 3
‘Volgens die genade deur God aan my gegee, het ek soos ‘n bedrewe bouer ‘n fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie – dit is Jesus Christus.’
EENSGESIND IN CHRISTUS
Christus hou sy kerk in die lewe, en omdat die kerk lewend bly, bly die fondament van die kerk, Christus, ook vir altyd bestaan. Die kerk van alle tye ken slegs een vaste grond. Deur die eeue heen staan Christus as fondament rotsvas. In Mattheus 16:18 lees ons – ‘…op hierdie rots (“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”) sal Ek my kerk bou; en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie. Maar al sal die kerk vir altyd bestaan, beteken dit nie dat die kerk oral sal bly staan, waar dit ooit tot stand gekom het nie. As Christus nie langer die Here van die kerk is nie; as daar nie meer op dié fondament gebou word nie; dan trek Christus Hom van die kerk terug. Die kandelaar word van sy plek verwyder. Dit het met baie kerke gebeur. Dieselfde dreig nou in die Westerse samelewings.
Dit maak hierdie deel vanoggend vir ons uiters aktueel. Ons aandag word gerig op ons fondament. Ons fokus word skerp ingestel, dat ons mekaar vashou in Christus en in niks anders nie.
Die fondament gelê
Die kerk in Korinthe was in partye verdeeld. Hulle was vir Paulus, óf Apollos, óf Sefas. Hieroor spreek die Here hulle aan. Dit gaan nie oor die instrumente nie. Dit gaan oor die fondament – Christus. Paulus het geplant. Dit was hy wat die evangelie daarheen mog bring. Apollos het hom opgevolg, hy het natgemaak. ‘n Diepgewortelde skrifkenner met ‘n besondere preekgawe. Maar in die kerk van Christus is daar nie ruimte vir partydigheid nie. In antwoord hierop hoor ons – ‘Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei… Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk.’
Let hoe jy daarop bou
In die lewens van gelowiges mag daar dinge van die Heilige Gees verwag word. Daar waar die Gees in iemand se lewe werksaam is, word dit sigbaar. Dit is nou die probleem met die Korinthiërs. ‘Broers, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie, maar wel soos met wêreldse mense, soos met klein kindertjies, in Christus.’ Hy praat met hulle as gelowiges wat leef asof hulle ongelowig is. Wêrelds, vleeslik. Hier moet iets verander. Volwasse kinders van die Here gaan anders te werk.
Geen ander fondament as Christus
‘Maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.’ Dit gaan oor een saak: Die kerk is God se saailand. God se bouwerk. Ons behoort aan Jesus. Dit is Hy wat ons, hoe verskillend ons ook mag wees, saambind. Nie ek van Paulus en jy van Apollos nie, maar ek van Jesus Christus en jy ook. Eensgesind is ons in Hom!
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com