Skip to content
Menu

1 Korinthiërs 2:6-16
Titus 2:11-3:7

‘Maar toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser.’

GOD SE GOEDHEID IN DIE DOOP

‘Die verlossende genade van God het verskyn vir alle mense.’ Dit is ‘n nuuswaardige boodskap. In ‘n genadelose wêreld is dit iets wat ons gereeld moet hoor. Die genade van die Here kom soos ‘n stortvloed oor ons heen. Net soos wat jy in die stort van kop tot toon nat word, so kom dit oor jou heen. Paulus praat hier van die bad van die wedergeboorte. Ryklik is die Heilige Gees op ons uitgestort. Opmerklik hier is dat nie Paulus of Titus op Pinksterdag teenwoordig was nie. Paulus was toe nie deel van die groep dissipels nie. Titus was nog glad nie in beeld nie. Hy was nie eens ‘n Jood nie, maar ‘n Griek. En tog skryf Paulus: Die Gees is ryklik op ons uitgestort. Wat op Pinksterdag gebeur het, het hulle later ervaar. Hulle het dit persoonlik ontvang. Die wêreldwye uitstorting van Pinkster, word voortgesit in die lewens van individue. Mense kan lewe van God se genade. In sy goedheid kom God na ons toe. Hy red ons deur die bad van die wedergeboorte.

‘n Nuwe lewe uit genade

God red ons deur die bad van die Gees wat Hy deur Jesus Christus ryklik oor ons uitgestort het. Dit gaan hier oor wedergeboorte en vernuwing. Die Heilige Gees vernuwe mense. Nuwe mense is gelowiges. Mense wat Jesus Christus omhels. ‘n Nuwe mens is iemand wat aan Hom behoort. Hierin het die Here se genade sigbaar geword. Genade is een van die kernsake waaroor dit in die kerk gaan. God is ‘n genadige God. Hy gun ons die goeie. Hy gee graag. Hy deel van harte uit. Hy oorlaai ons met gunsbewyse. Genade is God se guns. Genade is dat God ons vergewing gee. Dat Hy ons genees en bevry. Genade is dat God, sonder dat ons iets daarvoor hoef te doen, vreugde, humor, blydskap in ons lewens bring.

‘n Lewe vol van die Heilige Gees

Genade is dat God ons red. Die genade kom binne – ‘by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees’. Dit is ons doop: ‘n Reinigingsbad wat die oorgang van die ou na die nuwe aantoon. Ons doop is vol van die Heilige Gees. Gedoop word beteken dat die Heilige Gees iets nuuts in jou lewe begin. Gedoop word beteken dat jy bely  dat jy vir die vernuwing van jou lewe heeltemal op die Gees van Jesus Christus aangewys is. As ons ons kinders leer om hulle doop te verstaan, dan fokus ons hierop. Gedoop wees behels dat jy ‘n lewe lank mag geniet van genade. Dat God sy goedheid vir jou van harte gun. Dat jy die ou lewe agter gelaat het en dat die Gees jou in die nuwe lewe van God se Koninkryk binnelei.