Skip to content
Menu

Lees: Deuteronomium 7:1-10 & 1 Johannes 4:7-5:4    Teks: 1 Johannes 4:10     Sing: Ps. 93-1:1,2,3,4; Ps. 139-1:1,6,7,12; Ps. 105-1:5; Ps. 146-1:8; Sb. 2-4:1,2,3.

‘Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes.’

GOD SE LIEFDESVERKLARING IN DIE DOOP

Jong mense is op hulle mooiste as hulle verlief is. ‘n Bekende beeld. Iets wat baie van ons al meegemaak het. Die vars liefde tussen ‘n jong man en vrou. Die entoesiasme vir mekaar, die saamgeniet van die lewe. Die kreatiwiteit en energie wat hulle vir mekaar het. Die groot hoeveelheid tyd wat op een persoon gerig is. Hoe min tyd daar vir ander mense is. In die Woord het ons vanoggend op twee plekke gehoor van God se liefde. Dit is stralende liefde. In die begin in Deuteronomium hoor ons dit in God se Woorde aan sy volk: Julle is my volk. Julle is heilig. Suiwer en pragtig. Ek het julle lief. Ek het My aan julle verbind. Ek het julle uitgekies. Hoekom? Omdat Ek julle lief het. Ek verwag groot dinge van julle. Natuurlik sal julle ons afsprake onderhou. Natuurlik sal julle nie vreemde gode in julle lewens toelaat nie. God verklaar sy liefde. En in hierdie liefdesverklaring mag ons ook vanoggend deel. Ons is deur Jesus Christus opgeneem in God se volk. In die doop sien ons dit. God se liefdesverklaring. Dit staan op ons lewens geskryf. Ek het jou geroep, jou gekies, jy is Myne. Woorde van stralende liefde. Die Here dring deur in ons lewens.

Hy het ons eerste liefgehad

‘Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het.’ Dit gaan hier oor die essensie van die liefde. Dit begin nie by ons nie, maar by God. Dit kan soms moeilik wees. Ons hou daarvan om inisiatief te naam. Om die eerste stap te gee. Maar nou kom daar ‘n God ons lewe binne wat sê: Ek begin. So sien ons dit regdeur die Woord gebeur. By Adam en Eva. Ons sien God se liefde in die stuur van sy Seun. Dat Hy kom om ons sondes te vergewe. ‘Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef.’

In dié liefde is daar geen vrees nie

‘In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.’ In hierdie gedeelte staan liefde teenoor vrees. Die vrees waaroor dit hier gaan het te make met ‘n verkeerde beeld van God. Dat God ‘n God is wat jou bang maak. Daarteenoor word nou die onvoorwaardelike liefde van God gestel. Dit kom na ons toe deur Jesus Christus. Hy het die angste van die hel deurstaan, sodat ons dit nie hoef te ervaar nie.

Die liefde is dat ons God se gebooie onderhou

‘Ons mag ewig saam met God leef. Die Here het ons lief, en daar begin ons lewens. Dit verander die praktyk. Jy is toegewyd aan God. Wie Christus ken, verlang na ‘n nuwe lewe volgens God se wil.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com