Klik hier vir die regstreekse uitsending
Lees: 1 Petrus 1:1-12 Teks: 1 Petrus 1:1,2 Sing: Ps. 9-1:1,7,10; Ps. 43-1:1,3,4; Ps. 80-1:1,10; Ps. 145-1:1,10,12.
‘Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die Diaspora in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God, die Vader, om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees, en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word!
Uitverkore vreemdelinge in die wêreld
Die apostel Petrus was ‘n unieke man. Hy was een van die apostels van Jesus. Die passievolle Petrus. As dissipel het hy alles met oorgawe gedoen. Toe die soldate Jesus arresteer het hy tot geweld oorgegaan. Toe Jesus op die water loop het hy Hom gevolg. Met oorgawe het hy sy dissipelskap voltooi. Hy was ‘n gelowige dienaar van Jesus. Daarom het Jesus hom die bynaam ‘rots’ gegee. Na die dood van Christus kry hy as apostel die opdrag om een van die bouers van die kerk van God te wees. Petrus skryf hierdie brief vanuit Rome. Die brief wat hy skryf rig hy aan die medegelowiges in Klein Asië. Dit is ‘n sendbrief. Hy het die brief waarskynlik aan ‘n boodskapper gegee, wat die brief by die gemeentes besorg het en daarna dit weer na ‘n volgende gemeente toe gebring het. Hy noem die lesers vreemdelinge. En nie maar net vreemdelinge nie, maar uitverkore vreemdelinge. Aan die hand van 1 Petrus 1 staan ons stil by ons vreemdelingskap. As Christene is ons vreemd in die wêreld. Ons het ander norme en waardes.
Die realiteit van Christen wees (vers 3-5)
Die gelowiges in Klein-Asië het vreemdelinge geword die oomblik toe hulle tot geloof in Christus gekom het. Deur die evangelie van Jesus het hulle lewens drasties verander. Skielik is hulle vreemdelinge onder hulle eie mense. Dit gebeur wanneer jy wedergebore word. Dit is die realiteit daarvan.
Die beproewing van Christen wees (vers 6-9)
As kind van die Here word jou geloof getoets en geweeg. Die Here beproef jou op allerhande maniere. Die doel hiervan is om te bepaal of jou geloof ooreenkom met die wil van die Here. Die invloed van die wêreld veroorsaak dat jou gedagtes op verkeerde paaie gelei word. God beproef om ons geloof te suiwer.
Die voorreg van Christen wees (vers 10-12)
Vreemdelingskap is vir Petrus ‘n direkte gevolg van die nuwe lewe. Dit is selfs ons voorreg. Ons is bevoorreg om te mag deel in die verlossing van Jesus. Bevoorreg om geloof van God te ontvang en om deur Hom beproef te word. Sodat ons in ewigheid saam met Hom kan leef. Daar is nie ‘n groter voorreg as dit nie.