Skip to content
Menu

1 Korinthiërs 5
HK Sondag 31 v&a 85

 ‘Verwyder die ou suurdeeg, sodat julle nuwe deeg kan wees, soos julle inderdaad ongesuurde brood is. Want ook ons Pasgalam, Christus, is geslag.’

INKLUSIEWE EVANGELIE, EKSKLUSIEWE KERK

Alles is my geoorloof” (1 Kor. 6:12) Die leuse van die kerk in Korinte. Die gevolg hiervan hoor ons vanoggend. Daar is iemand in die gemeente, wat verskriklike dinge doen, en hulle laat dit gebeur. Want – alles is my geoorloof. Ons besluit self wat kan en wat nie kan nie. In Korinte loop dinge skeef, en tog is hulle tevrede met hoe dit gaan. Hulle is verdwaald, maar hulle is trots op wie hulle is. Hulle is ook nie bekommerd hieroor nie. Hieroor word die kerk aangespreek. So werk dit nie. ‘n Kerk sonder tug bly nie ‘n kerk nie. Vandag ken ons in die kerk die tug. In ons kategismus hoor ons dit is daar vir as iemand hulle in leer of lewe misdra. Dit is ‘n saak wat die hele gemeente raak. Dit is juis hiermee waarmee ons mekaar liefdevol in Christus vashou. Dit is ‘n gevoelige onderwerp. Ons leef in ‘n tyd van inklusiwiteit. Elkeen het reg op sy eie mening en opinie. Elkeen kan self besluit wat hy doen. In die Westerse gedagte goed moet alles meer inklusief wees. Die maak vanoggend se tema baie aktueel. Want alhoewel die evangelie inklusief is, (dit roep elkeen na Jesus Christus toe) is die kerk eksklusief. Want slegs hulle wat glo, is deel van die liggaam van Christus. In die woorde uit 1 Korinthiërs 5 – “Verwyder die slegte mens uit julle midde.” Dit is nie iets wat ons self uitgedink het nie, so openbaar die Here dit aan ons in die Woord.

Die probleem in Korinthe

Die eerste konkrete probleem in Korinte toon Paulus aan. Hy koppel dit aan die verwaandheid en trots van die lidmate van die kerk. Hy praat hier oor ‘n geval van ontug. In die kerk is daar ‘n man wat saam met sy stiefma in ‘n verhouding leef. Die probleem is dat die Korintiërs dit laat gaan. Iemand leef in sonde en hulle gaan voort asof dit nie saak maak nie. Die probleem – een sondaar beïnvloed die hele gemeente. Die besef van sonde vervaag. As sonde getolereer, aanvaar en geregverdig word, is die impak op die gemeente groot. Want – as hy dit doen, hoekom dan nie ek ook nie! So word die heiligheid van die gemeente aangetas en versuur.

Die oplossing vir Korinthe

‘Verwyder die ou suurdeeg.’ Die tug moet toegepas word. Die ou suurdeeg moet die gemeente uit. Verwyder die man wat so openlik en arrogant in sy sonde leef en bly leef. Want die sonde is besmetlik en gevaarlik. Die rede is nie uit haat vir hom nie, maar vanweë die gevaar van die sonde. Vir ons ‘n oproep. Die ou suurdeeg moet ons lewe uit. Deur Christus is ons nuwe deeg. Ons Pasgalam, Christus, is vir ons geslag. Ons kan nie feesvier met ou suurdeeg nie!

Die opdrag aan Korinthe

‘Laat ons daarom feesvier.’ Ons is die Here innig dankbaar vir die verlossing wat ons ontvang. Dit maak ons nie hoogmoedig en trots nie. Ons staan klein voor sy genade. Dit is die opdrag wat ons vanoggend saamvat. Lewe van dankbaarheid, is net moontlik as jy van die Paaslam geëet het. As die bloed van Christus oor jou siel gesprinkel is.