Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Lees: 1 Petrus 2:11-25      Teks: 1 Petrus 2:21        Sing: Ps. 97-1:1,7; Ps. 1-1:1,4; Sb. 18-2:4,5; Ps. 72-1:1,10,11.

‘Julle is immers hiertoe geroep, want Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg.’

In die voetspore van Jesus Christus

Hoe volg jy vir Christus? Dit is ‘n tema wat deur die loop van die eeue al baie aandag gekry het. Want wat beteken dit om Christus te volg? Hoe doen jy dit? Nadat Petrus in sy brief aan die gemeente in Klein-Asië geskryf het oor hulle vreemdelingskap en oor hulle priesterskap, plaas hy nou die fokus op die navolging van Christus. Die lewe wat die mense in Klein-Asië geleef het, was geken deur swaarkry en verdrukking. Hulle christenskap het die lewe vir hulle moeilik gemaak. Petrus wys hulle daarop dat die lewe van ‘n christen nie ‘n maklike lewe behoort te wees nie. Petrus het self swaarkry in sy lewe geken. Hy het baie goed geweet wat lyding is. Hy troos sy lesers met die wete dat ons lyding in perspektief staan met die lyding van Jesus Christus. Hy het die pad van lyding gestap wat nie een van ons kan stap nie. Petrus troos ons met die woorde. Hy bemoedig ons dat ons vir Jesus het, en dat ons Hom moet volg. Deurdat jy Jesus volg  kry die lewe ander kleur. Dan word swaarkry en lyding anders beleef. Om Jesus te volg gee vir jou lewe nuwe rigting.

Jesus, ‘n voorbeeld in lydsaamheid

In vers 21 lees ons dat Christus vir ons ‘n voorbeeld nagelaat het. Die voorbeeld wat Hy vir ons gee, hou verband met sy lyding – ‘omdat Christus vir julle gely het en ‘n voorbeeld nagelaat het’. Hier hoor ons van lydsaamheid – Wat beteken dit? As vreemdeling priester van die Here word jy opgeroep om lydsaam te wees volgens die voorbeeld van Christus. Dit beteken dat wanneer daar onreg teen jou gedoen word jy lydsaam moet wees. Dit hou in dat jy rustig bly, nie kwaad word en wraak soek nie. Terselfdertyd moet jy as christen onreg met reg beantwoord. In die wêreld is dit nie altyd maklik nie.

Hy het die weg na die hemel gebaan

Jesus is die weg. Hy sê dit self in Johannes 14:6 – ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die vader behalwe deur My nie.’ Hy het die pad wat tussen ons en die Vader gebreek was herstel. Deur Hom is dit weer moontlik om by die Here te kom. Danksy Hom is dit moontlik om die regte pad te volg. Deur Hom ‘wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sonde kan afsterwe en vir die geregtigheid kan lewe; deur wie se wonde julle genees is.’ (vers 24)

Moenie dwaal nie, maar volg Hom

Deur die sonde sit ons gereeld op verkeerde paaie. Petrus roep ons op om nie te dwaal soos skape nie. Ons het ‘n doel in die lewe. Met die oog Christus kry gelowiges ‘n ander perspektief op die lewe. Dan word lyding en swaarkry vanuit geloof anders ervaar.