Lees: Spreuke 3:1-12 Teks: Spreuke 3:3,4 Sing: Ps. 148-1:1,2,5; Sb. 12-2:4,5; Ps. 86-1:1,6; Ps. 19-1:4,5; Sb. 1-1:4,5; Ps. 18-1:1,14.
‘Troue liefde en waarheid moet jou nooit verlaat nie. Bind dit om jou nek, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy guns en goeie begrip vind in die oë van God en die mense.’
WYSHEID VIR DIE KINDERS VAN DIE HERE
In die boek Spreuke is daar vir ons baie lewenswysheid opgeskryf. Elke spreuk sê soveel. Dit sit vol van wysheid. Wysheid is iets anders as verstand, kennis of intelligensie. Wysheid is die kuns om reg te reageer, om op die regte oomblik die regte besluite te neem. In ons alledaagse lewe het ons baie wysheid nodig. Ons word geraak deur probleme in verhoudings. Rusies met bure. Eiewyse mense, gesondheid en siekte, armoede en rykdom, opvoeding en arbeid. Wysheid gaan oor die lewe en ook oor dié Lewe. ‘n Belangrike teks in die Nuwe Testament oor wysheid lees ons Kolossense 2:3 ‘Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.’ Hierdie gedeelte in Spreuke 3 gaan oor wysheid wat in die praktyk uitgevoer word. Dit gaan oor aktief doen.
Ken Hom in al jou weë
Die eerste opdrag waarby ons stilstaan is: Ken Hom in al jou weë. Reeds in vers 1 word hierdie saak aangeraak. In die eerste vers sien ons die verhouding waarin ons met God staan. God spreek ons aan as sy seuns en dogters. Hy is ons Vader. Hy wil ons lei en Hy toon vir ons die pad aan wat ons moet volg. En dit doen Hy met – ‘my onderrig moet jy nie vergeet nie, en my gebooie – jou hart moet daarby hou’. As ek hierdie woorde lees, dan gaan my gedagtes direk na Psalm 119:16 – ‘In u voorskrifte vind ek vreugde; ek sal u woord nie vergeet nie.’ God wil dat ons hart vol is van sy onderrig. Dat ons vreugde vind in sy voorskrifte. Dat ons bly word van sy Woord. God wil dat ons sy Woord, die Bybel, van voor tot agter ken. Dat jy ‘n verlange het om daaruit te lees, om daaruit te leer, om dit te gebruik as handleiding vir die lewe. Die Woord van God. Ons rigtingwyser hier op die aarde. Besef jy hoe belangrik en kosbaar sy Woord is.
Hou vas in liefde en trou
‘Troue liefde en waarheid moet jou nooit verlaat nie. Bind dit om jou nek, skryf dit op die tafel van jou hart.’ Die tweede opdrag wat God gee sluit aan by die liefdesgebod van Jesus later: Jy moet die Here jou God bo alles liefhê en jou naaste soos jouself. Dit laat ons dink aan 1 Johannes 4:10 – ‘Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes.’ Ons word opgeneem in die liefde van die Here. Dit is bepalend vir ons verhoudings. Deur sy Seun het God ons lief. En vandaar kry ons die opdrag: Bind dit om jou nek, skryf dit op die tafel van jou hart. Leef in liefde.
Eer die Here met jou rykdom
Dit lei tot ‘n lewe wat aan God gewy is. So hoor ons ook die laaste opdragte. Jy moet ontsag hê vir die Here. Eer die Here met jou rykdom. Diep onder die indruk van sy werke, bewus van wie Hy is en wat Hy alles gedoen het – ook vir jou persoonlik – maak dit jou klein voor Hom. Dit bring jou by dankbaarheid. Jy wil van harte Hom eer. Jy kan die Here eer met jou lewe deur Hom al die eer te gee.