1 Petrus 5
‘Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond “soos ‘n brullende leeu”, op soek na wie hy kan verslind.’
DIE STRYDENDE KERK VAN JESUS CHRISTUS
Die duiwel is ‘n onderwerp waaroor ons nie graag praat nie. Veral nie op ‘n Sondag soos vandag nie. Waar ons vandag ‘n kind in die kerk gedoop het. Dan plaas ons liewer die fokus op een van die positiewe onderwerpe. Op geloof, of hoop, of liefde. Of oor die verbond van God. Dat Hy ons aanneem as kinders. Maar vanaand gaan dit oor die duiwel. Oor ons magtige teenstander, wat brul soos ‘n leeu, vir wie ons op die uitkyk moet wees. Maar op hom plaas ons nie die fokus nie. In die evangelie van Jesus Christus is die Satan ‘n bykarakter. Die fokus plaas ons op die kerk van God. Die kerk van Jesus Christus wat opgeroep is om te stry teen dié teenstander. Die laaste tyd het ons as gemeente die brief van Petrus tydens die eredienste behandel. Petrus beskryf ons as vreemdelinge hier op aarde, ons is vreemd hier omdat ons Christus dien. Christene is anders. Hulle leef in die wêreld maar hulle is nie van die wêreld nie. In die laaste hoofstuk van Petrus, bemoedig hy die kerke van Jesus Christus, om te volhard in die stryd hier op aarde. Hy roep ons op om reg te wees vir die stryd wat hier gevoer moet word. Ons as kerk moet stand hou teen die aanvalle van die duiwel.
Die struktuur van die kerk
Petrus vergelyk die kerk met ‘n kudde skape wat opgepas word deur herders. Dit is die struktuur van die kerk. God stel ampsdraers in sy gemeente aan om sy kerk te beskerm en te onderhou. Soos herders hulle skape oppas, so moet die ouderlinge toesien dat die kerk van die Here opgepas word. Hulle moet seker maak dat lidmate leef volgens die Woord van die Here, dat hulle nie van Hom wegdwaal nie, maar by Hom bly. Die kerk is gestruktureerd sodat ons nugter en waaksaam kan wees teen die vyand wat op die loer lê.
Die teenstander van die kerk
Die teëstander van die kerk is die duiwel en die sonde. Nadat Jesus vir Satan oorwin het toe Hy hier op aarde was, is die duiwel op die aarde neergewerp. In die wêreld gaan hy tekere soos ‘n brullende leeu. Hy verslind en verwoes links en regs. Waar hy kans kry om iemand in die verderf in te lei, gryp hy die kans aan. Die strydende kerk van God word opgeroep om teen hierdie magtige teëstander te stry.