Romeine 6:1-11
Jona 1
‘Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei.’
VAN JONA NA JESUS – DOOP EN OPSTANDING
Vanoggend staan ons stil by twee pragtige gebeure. By doop en opstanding. In die Bybel kom die twee in Romeine 6 pragtig bymekaar, en ek dink ook in Jona 1. Die doop is ‘n pragtige sakrament. Ons het dit vanoggend ervaar. So prominent daarin is die eenheid tussen Jesus Christus en sy gelowige kinders. Die eenheid van die dood en opstanding van Jesus Christus aan die een kant, en die genade en die nuwe lewe van God se kinders aan die ander kant. In Romeine 6:4 so duidelik gestel – ‘Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei.’ In die konteks luister ons ook na Jona. Hoe die Here hom onder deur die water heen by ‘n nuwe begin bring.
Geraak deur die opstanding van Christus
‘Of weet julle nie dat ons wat in Christus Jesus in gedoop is, in sy dood in gedoop is nie?’ Wat beteken dit om in iets gedoop te word? So met die feestyd laat dit mens dink aan fondue. Soos wat jy iets in gesmelte kaas of sjokolade druk. Wat jy eet kan jy proe is daarin gedoop. Dit proe anders. ‘n Beeld wat Paulus in sy briewe gebruik, oor die nuwe lewe, is dat jy ‘n nuwe kleed aantrek. Dit lyk ook soos iets wat ‘n nuwe laag kry. Hy skryf in Galasiërs 3:27 – ‘want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek.’ Ons word geraak deur die opstanding van Jesus Christus.
God maak ‘n nuwe begin
By Jona sien ons hoe die Here ‘n nuwe begin maak. Jona word gedoop. Die ongehoorsame Jona word uit die boot gegooi. Hy gaan die water in. Die Here red hom deur die water heen. Nou deur ‘n vis, uiteindelik deur Jesus Christus. Maar in die lewe van Jona maak God ‘n nuwe begin. In die lewe van hierdie profeet sien ons hoe dit alles na Jesus wys. Die persone op die boot wat redding nodig het. Die offer van ‘n persoon wat dit in werking stel. Jona wat drie dae en nagte in die vis sit. God maak ‘n nuwe begin.
Ons word opgewek tot ‘n nuwe lewe
Doop en opstanding sluit by mekaar aan. Die doop is teken dat ons deel is van God se verbond. Ingelyf in die werke van Jesus Christus. Die doop en opstanding roep ons op tot ‘n nuwe lewe. Ons deel in die verhaal van Jesus Christus. Ons is gedoop in sy dood. Ons deel in sy opstanding. As nuwe mense leef ons hier in ‘n verhouding met God ons Vader.