Die regstreekse uitsending is op hierdie skakel beskikbaar
Lees: 1 Korinthiërs 6:12-20 Teksvers: 19,20 Sing: Sb. 12-3:1,2; Sb. 5-4:1,2; Ps. 45-1:1,2,9; Ps. 116-1:4,5; Ps. 145-1:1,10,12.
‘Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.’
Jou liggaam, ‘n tempel van die Heilige Gees
‘n Bruilof is ‘n fees. Die huwelik is ‘n warm en ‘n veilige tuiste. Maar nie vir elkeen nie. Verlief wees is fantasties. Om geliefd te wees is heerlik. Maar nie vir elkeen nie. Jy hoor soveel verskillende gedagtes en idees. Elkeen het sy eie ervaring en gevoelens. Oor seksualiteit. Oor getroud wees. Oor liefdesverhoudings. Elke bruilof vier ons as sprokie. Alles moet perfek verloop. Dit moet romanties wees. Maar vir baie hou die sprokie van ‘n huwelik, maar vir een dag. Deur teleurstelling en vervreemding, deur onopregtheid en magstryd, ontstaan daar spanning. Soms tot op ‘n punt dat dit onuithoudbaar word. Liefde het jy nodig om te lewe. Liefde gee en liefde ontvang. Maar wat nou as jy nooit liefde in jou lewe gevind het nie? Of die liefde verloor het? Of jy kry liefde vir iemand van dieselfde geslag? ‘n Veld vol rose en dorings. Die liefde is die toppunt van genot, maar so gereeld ook ‘n vuur waaraan jy jou seer brand. Seksualiteit, huwelik, liefde. Sterk kragte wat onder ons mense leef. Met die oog hierop gee die Here die sewende gebod. ‘Jy mag nie egbreek pleeg nie’. In hierdie gebod word elkeen geraak. Dit gaan oor hoe jy met jou liggaam omgaan. Die Here sê vir ons – Jou liggaam is ‘n tempel van die Here, en daarom moet jy dit gebruik tot sy eer.
Die wil van die Here
In die brief aan die Korinthiërs toon die Here vir ons aan hoe ons Hom met ons liggame moet dien. Dit geld vir elkeen, getroud of ongetroud – Elke kind van God is heilig. Elkeen se liggaam is ‘n rein en suiwer tempel. Jy kan jou liggaam nie bevlek nie, want dit is onderdeel van die liggaam van Christus.
Die gebrokenheid van vandag
Deur die sondeval is ook hierdie aspek van ons lewens ten diepste geraak. In plaas van dat die mens in vrede saamleef, kom daar twis. Direk na die sondeval kry ons die eerste huweliksonenigheid. Adam beskuldig Eva: ‘Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet.’ Ons leef in ‘n wêreld waar die duiwel losbars met losbandige liste. Die Goddelike huwelik en liefde word ingeruil vir oppervlakkige seksuele lewenstyle.
Versoening in Christus
Dit wat die mens deur die sondeval verwoes, herstel Jesus Christus met sy verlossingswerke. Deur Hom is daar versoening. Vir al die kere wat ons die Here se gebod oortree het is daar vergifnis. Hy herinner ons hier daaraan met die woorde – ‘Julle is duur gekoop.’ Ook toon Hy aan hoe ons dié gebod kan uitleef. Dit kan ons doen as ons vervul is met die Gees. As ons deur die Gees beheer word, dan het ons beheer oor ons liggame.