Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending is op hierdie skakel beskikbaar

Lees: Jakobus 2:1-13      Belydenis: HK Sondag 21     Teks: Jakobus 2:1      Sing: Ps. 2-1:1,4,6;

Ps. 146-1:1,3; Ps. 22-1:1,12; Ps. 146-1:5,6,7,8.

‘My broers, julle geloof in ons Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet so wees dat julle nie iemand na die uiterlike beoordeel nie.’

DIE KERK IN DIE OË VAN DIE HERE

Hoe groei jy in jou geloof? Dit is die tema van die brief van Jakobus. Geloofsgroei. Elke christen is elke dag daarmee besig. In die eerste hoofstuk het Jakobus alreeds die aandag op die volwassenheid van ons geloof gefokus. Dit het ons vorige keer behandel. Wees gou om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Hierdie drie punte is na binne in die gemeente gerig. Dit gaan oor die volwassenheid van ons geloof onderling. Nou gaan dit oor die ongeregtigheid wat ons doen teenoor medegelowiges en buitestaanders as ons oordeel volgens wêreldse beginsels. In die teksvers word dit baie duidelik gestel. Die geloof wat ons het in Jesus Christus, gaan nie gepaard met die aanneming van die persoon nie. Partydigheid en geloof gaan nie saam nie. Dit is ’n teken van onvolwassenheid van geloof. Dit gaan hier oor oordeel op basis van die uiterlike. Oordeel oor die uiterlike dit kan mense baie goed doen. Kinders weet presies hoe. Dit is baie belangrik om mooi klere te dra, om in te pas by die skool. Om mooi te lyk. As jy met ou lelike klere aan kom dan gaan die ander kinders vir jou lag. Hulle gaan jou spot. Die oordeel oor uiterlik is in die wêreld aktueel. Mense word op basis van kriteria beoordeel: Is jy arm of ryk? Gesond of ongesond? Jonk of oud? Wit of swart? Geskool of ongeskool? Dit is die kriteria waarvolgens die wêreld mense beoordeel. Om te kyk of hulle betroubaar is.

Die opdrag: Wees hartlik!

Hierdie opdrag beskryf Jakobus met ’n voorbeeld. Daar kom ’n arm man en ’n ryk man die kerkdiens binne. Die ryk man word hartlik ontvang, die arm man nie. So werk dit nie in die huis van die Here nie. In God se oë is arm en ryk gelyk. Die kerk van die Here se deure staan oop vir alle mense in die samelewing. Ons is nie ’n klub wie self besluit wie welkom in ons midde is nie. Ons is kerk van die Here.

Die voorwaarde: Wie behoort?

Wie behoort in die kerk van die Here? Almal wat deur God self uitgekies is. God se beoordeling van mense verskil wesenlik van ons sin. God se keuse was juis goed vir die armes in die wêreld. As christene moet ons na mekaar kyk deur God se bril. In die kerk mag jy nie die bril van die wêreld opsit nie.

Die karakter: Volwasse gelowiges

Die doel is dat ons groei in die geloof. Geloof word direk verbind aan hoe jy na jou naaste kyk en met mekaar omgaan. Daarom noem Jakobus hierdie as ‘n belangrike kenmerk van ‘n volwasse geloof. Groeiende geloof word sigbaar en merkbaar in die onderlinge omgang met mekaar.