Jakobus 2:14-26
HK Sondag 7
‘Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.’
GELOOF WAT WERK
Geloof sonder werke is dood. Dit is die punt wat Jakobus in hierdie gedeelte van sy brief beklemtoon. ‘n Geloof wat in die praktyk nie aktief is nie, is nie ‘n ware geloof nie. Dit is ‘n aktuele tema. Hierdie saak raak elkeen van ons. Want ons glo in God en Jesus Christus. Ons het geloof en ons beywer ons om hierdie geloof uit te leef. Aan iemand se gesig kan jy meestal sien hoe dit met iemand gaan: As jy vir ‘n persoon kyk dan sien jy: hy is bly, bekommerd, hartseer, vrolik of optimisties. So is dit ook met ‘n kind van die Here. As God in jou hart woon, dan kan jy dit van die buitekant af sien. Aan die dinge wat jy doen, of aan die dinge wat jy juis nie doen nie. Hieroor gaan dit. As jy in God glo, van binne, dan moet dit aan die buitekant gesien word. Elkeen van ons as kind van die Here, moet die lig van God uitstraal.
Geloof en werke staan nie los van mekaar nie
Kan ‘n geloof sonder werke iemand red? Dit is die vraag wat Jakobus stel. Wat is die verhouding tussen geloof en werke? Die Here leer ons tog nadruklik dat ons slegs deur geloof in ons Here Jesus Christus salig sal word. Hoekom moet daar dan nou nog werke gedoen word. Vanuit ‘n ware geloof vloei werke voort soos vrugte aan ‘n boom. Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Daarom bevraagteken Jakobus die geloof as die werke nie daar is nie.
‘n Ware geloof leef in die praktyk
Geloof is nie net iets wat jy voel en dink nie, geloof is iets wat jy doen. Jou geloof moet in die praktyk vorm kry. ‘n Ware geloof word bevestig deur ware geloofswerke. In die Bybel is daar heelwat voorbeelde waar die geloof deur die werke bevestig word. Jakobus verwys na Abraham en Ragab. Hoe leef ek my geloof uit? Hier in die kerk, in die samelewing, daar waar ek elke dag besig is? ‘n Ware geloof leef in die praktyk.