Skip to content
Menu

1 Korinthiërs 12:12-31

‘En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop…en ons is almal met een Gees deurdrenk.’

ALMAL GEDOOP IN ÉÉN GEES

As ‘n kindjie gebore word, dan word daar eers gekyk of alles daar is. Tien vingers en tien tone. Elke liggaamsdeel is belangrik. Elke deel het ‘n funksie. ‘n Liggaam bestaan uit verskillende dele. Honderd ore maak nie ‘n mens nie. Jy sal baie goed kan hoor. Maar so ook nie baie oë of hande nie. As daar net een liggaamsdeel is, is daar nog nie ‘n liggaam nie. Vir ‘n volledige liggaam het jy al die ledemate nodig. Vorige week het ons ook by ons liggame stilgestaan. Dit in 1 Korinthiërs 6. Daar is beklemtoon dat jy met liggaam en siel aan die Here behoort. Jy kan nie gemeenskap met Christus en die wêreld hê nie. Nou word daar verder met die beeld van die liggaam gewerk. Dit word weer met Christus in verband gebring. Net soos wat ‘n liggaam uit verskillende dele bestaan. So geld dit ook vir die gemeente as liggaam van Jesus Christus. Ons is in gemeenskap met Hom. Daarin is ons een kerk. Terselfdertyd het ons as lede daarvan verskillende gawes gekry. So sien ons die veelkleurigheid van die kerk. Die verskillende dele vorm een liggaam. Elke lid is ten volle deel daarvan. Niemand kan gemis word nie. En wat ons saambind. Dit is die Gees. Hy in wie ons gedoop is.

Almal een

In die gedeelte plaas Paulus die fokus op die eenheid en verskeidenheid in die gemeente. Een Gees en verskillende gawes. Eenheid en veelheid. Die eenheid is gegrond in die Gees waarin elke lid gedoop is. Dit gaan hier oor die doop van die Heilige Gees. Johannes die Doper het gesê – ‘Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees.’ (Markus 1:8). Daar is verseker ‘n verbintenis tussen water en Gees. Ons bely in die kategismus – ‘ons is gewas met die bloed en Gees van Christus.’ Die doop van die Gees is nog soveel groter as die doop met water. Dit gaan hier oor die eenheid wat die Gees in die liggaam van Christus bewerk – want ons is almal immer met een Gees deurdrenk.

Almal verskillend

Paulus laat ook sien dat daar verskille is. Nie soseer net verskillende gawes nie, daaroor gaan dit in vers 1-11 en 28-31, maar verskillende mense: Jode en Grieke (verskillende volke), slawe en vrymense (maatskaplike status), ‘n wêreld waarin daar verskille is. Vandag is daar ook heelwat verskille tussen ons as mense. Party is hoog opgelei, ander nie, oud en jonk, ryk en arm, man en vrou, nuwe lidmate en oud lidmate, gesond en siek, doeners en dinkers. Dit is nogal besonders dat God dit so bestem om uit soveel verskillende mense een liggaam te vorm. Die belangrikheid hier – elke lid is deel. Selfs die wat swak lyk, is in die oë van God belangrik. (22-24) Die kern – ‘sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sal wees nie, maar die ledemate in gelyke mate vir mekaar sal sorg.’