Die regstreekse uitsending is op hierdie skakel beskikbaar.
Lees: Jakobus 5:7-20 Teks: Jakobus 5:13-15 Sing: Ps. 8-1:1,3,4,5; Ps. 42-1:1,5; Sb. 10-1:1,2,3,4; Ps. 91-1:1,8.
‘As iemand van julle swaarkry, moet hy bid. As iemand opgeruimd is, moet hy psalms sing. As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word.’
Volhard in gebed tot die wederkoms
Vir elke christen en elkeen van ons is gebed ‘n noodsaak. Gebed word selfs die asemhaling van die siel genoem. As jy ophou asemhaal, deur gebed agterweë te laat, dan sal jou geestelike lewe gou afloop. Deur gebed kommunikeer jy met God. Deurlopend is jy in gesprek met Hom. Aan die een kan bid jy tot Hom, deur woorde lê jy jou lewe voor Hom neer. Aan die ander kant praat God met ons deur sy Woord, deur biddend sy Bybel te lees kry ons duidelikheid oor God se pad vir ons. Gebed is nie ‘n verlanglys wat jy aan God voorhou nie, waarin jy vertel wat jy graag wil hê nie. Gebed is om in gemeenskap met God te leef, om vertroulik met Hom in gesprek te wees. Dit is belangrik. Dit is tyd wat afgesonder word om God beter te leer ken. Die doel van gebed is nie dat ons verlangens vervul word, of ons moeilikhede opgelos word nie, maar dat ons groei in ons geloof in God. Dat ons Hom intiem leer ken en onwrikbaar op Hom vertrou. Biddende christene is mense wat van God afhanklik is. Wat al hulle sorge, hartseer, verdriet, gevoelens, planne en sonde, maar ook hulle dank en aanbidding voor God bring en in afhanklikheid van Hom leef. In die laaste deel van sy brief spreek Jakobus hierdie tema aan. En hy is nogal radikaal hieroor. Hy plaas die fokus op die genesende krag van gebed. Sy brief in geheel is konfronterend. Hy spreek sake aan, wat in ons eie oë liewers onaangeroer bly. Die doel hiervan word duidelik in sy laaste hoofstuk. Sy brief – ‘n konfronterende brief is om die rede ook ‘n genesende brief. Hy spreek die probleem by sy kern aan. Hy kap die wortels af wat in sonde gegrond is. Deur te fokus op gebed rig hy ons aandag op die wederkoms.
Gebed vir liggaamlike nood (7-14)
Met drie vrae beskryf Jakobus die liggaamlike omstandighede waarmee die mens hier op aarde te make het. In vers 13 en 14 lees ons dit – Is daar iemand onder julle wat ly? Is iemand opgeruimd, gelukkig? Is daar iemand siek onder julle? In jou lewe kan jy hiermee assosieer. Daar is tye van swaarkry en lyding. Tye wat dit finansieel swaar gaan, maar daar is ook tye wat dit goed gaan, tye van voorspoed. Dan is daar ook tye van siekte. Jakobus moedig ons aan om in alle omstandighede tot die Here te bid.
Gebed vir geestelike nood (15-20)
Vanweë die sonde het ons nie net liggaamlike nood nie, maar ook geestelik. In vers 15 plaas Jakobus die fokus op geestelike genesing. Want soos siekte die liggaam kan verteer, net so vernietig sonde die siel. Danksy ons Here Jesus Christus is genesing moontlik. Deur sy kragtige dade word jou sondes van jou weggeneem. Hy is die vergewende krag wat jou red van die kwaad. Hy genees jou sodat jy in ewigheid saam met die Vader kan leef.