Mattheus 3:13-17
Mattheus 28:16-20
NGB Artikel 8
‘Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgestaan. Meteens het die hemele vir Hom oopgegaan en Hy het die Gees van God soos ‘n duif op Hom sien neerdaal. En meteens het ‘n stem uit die hemele gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”
ONS KEN GOD AS VADER, SEUN EN HEILIGE GEES
“Die algemene geloof is dit: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid leer. As iemand dit nie bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan. Wie salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.” Dit is groot woorde. Woorde waarvan baie mense nie van hou nie. As jy nie in die Drie-eenheid glo nie, gaan jy verlore. Vir ewig. Dit is nie maar net woorde nie. Dit is die belydenis van ons kerk. Die woorde kom net so uit een van ons belydenisskrifte. Dit is die geloofsbelydenis van Athanasius. Onder hierdie stelling het elkeen van ons ampsdraers, sy handtekening gesit. Het jy dit bely met jou geloofsbelydenis. Die leer oor die Drie-eenheid is maak of breek. Vir baie christene is dit moeilik, ingewikkeld en onlogies. Sommige is van mening dat die Drie-eenheid ‘n menslike gedagte is. Die woord kom dan nie eers in die Bybel voor nie. Daarom is dit belangrik dat ons by hierdie onderwerp stilstaan. Kom ons by die kern van die saak, dan is dit heerlik om so oor God te kan praat. Want dit gaan nie hier oor ‘n stuk leer, dogma nie. Nee, dit gaan oor God self. Dit gaan oor Wie Hy is en wat Hy doen. Hoe Hy met ons kontak maak. Saam met ons in ‘n verhouding leef. Dit gaan oor hoe ons sy nabyheid ervaar. Hoe ons Hom aanbid. Dit gaan oor jou band met die lewende God. Hy wat ons ken as Vader, Seun en Heilige Gees.
So maak Hy Homself bekend
Oor die Drie-eenheid van God is daar baie vrae. Hoe werk dit nou? Hoe kan iemand een en drie op dieselfde tyd wees? Vir baie mense is dit nie logies nie, ingewikkeld en moeilik om te verstaan. Tog gaan dit hier oor ‘n kern onderdeel van ons geloof. So maak die Here Homself aan ons bekend. Ons hoor dit in die doop opdrag: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”
So word Hy deur ons erken
Vanuit die Woord kan ons God in sy Drie-eenheid erken. Ons ken ons Vader. Hy het jou lewe gegee. Hy het jou gemaak. Met jou ‘n verbond gesluit en jou as sy kind aangeneem. Ons ken die Seun. Hy het jou gered. Vir jou verlossing betaal Hy met sy bloed. Hy was jou skoon van al jou sonde en ellende. Ons ken die Heilige Gees. Hy werk en woon in jou. Die Here se genade stroom in jou deur sy werke. Hy rig jou op Jesus Christus en help jou in die stryd teen die sonde.