Daniël 1
‘Maar die toesighouer oor die paleisamptenare, het hulle name vervang: Daniël het hy Beltsasar, Gananja het hy Sadrag, Misael het hy Mesag, en Asarja het hy Abednego genoem. Daniël was egter vas van voorneme dat hy homself nie sou besoedel met die koning se kos en die wyn wat die koning gedrink het nie. Hy het toe die toesighouer oor die paleisamptenare vergunning gevra dat hy homself nie hoef te besoedel nie.’
DIE KERK VAN JESUS CHRISTUS DIEN AS TEENKULTUUR
Waar gaan die kerk heen? Wat is die toekoms van die kerk van die Here in hierdie land? Baie van ons jong mense keer hulle rug op die Here. Hulle lê belydenis af, maar kort daarna verdwyn hulle. Word hulle opgesluk deur die wêreld en al sy dinge. In Daniël 1 lees ons van vier jong manne. Seuns wat opgegroei het in die verbond. Nou loop hulle gevaar om dit alles te verloor. Hulle kom uit belangrike families uit Juda. Begaafd en opgelei. Kinders met ‘n blink toekoms. Hulle word opgeneem in die paleis van Nebukadneser. Hy het Juda oorwin en die beste het hy vir hom gevat. In die eerste verse lees ons die name van twee konings. Jojakim die koning van die verwoeste staat Juda. Nebukadneser die wêreldheerser uit Babel. Dit gaan hier oor twee stede. Jerusalem en Babel. Dit gaan hier oor die stryd tussen die God van Jerusalem en die afgode van Babel. Jerusalem is die stad van God. Die stad van vrede waarvan daar in soveel Psalms gesing word. Babel is die stad van opstand teen God. In hierdie verse lê die sleutel om die hele boek Daniël te verstaan. In die geskiedenis van die wêreld is daar ‘n deurlopende stryd. ‘n Stryd tussen die stad van God en die stad van mense. Hierin deel ons ook vandag. Ons is deel van die stad van God, maar ons leef hier plaaslik in ‘n stad van mense. Hier in Pretoria. Ook hier is daar aanvalle op ons christelike identiteit. Net soos in die dae van Daniël. As hemelse burgers, bring die Here ons vandag hier as sy kerk bymekaar. Hy gee ons die opdrag om hier ons Goddelike roeping uit te leef. Om die kultuur na Hom toe terug te roep.
Die aanval op jou identiteit
In die boek Daniël sien ons die stryd tussen die stad van God en die stad van die wêreld, Babel. Babel het haarself teenoor die Here verhef. Met mag en mening probeer die heersers van die tyd dat die volk van die Here vergeet word. Dat hulle van die aarde uitgewis word. Ons sien dit by Daniël en sy drie vriende. Daar is ‘n duidelike aanval op hulle identiteit. In die wêreldstad Babel moet hulle afstand doen van die Here hulle God. Hulle kry selfs nuwe name om die proses te bevorder.
Die uitleef van jou identiteit
Daniël kon nie van die onrein kos wat in die paleis bedien word, eet nie. Dit gaan teen die voorskrifte van die Here in. Daarom gaan hy takties te werk en bly hy in die situasie waarin hy homself bevind, trou aan die Here. Dit spreek kragtig tot ons vandag. Ons leef in ‘n wêreld waar ons identiteit as christene gereeld bevraagteken en aangeval word. Ook nou probeer die wêreld om ons van Christus af weg te trek. Hier roep die Here ons op om ons identiteit altyddeur in Christus uit te leef.
GESPREKSPUNTE
- Wat leer jy by Daniël oor hoe om moedig en kragtig Christen in die samelewing te wees?
- Op watter maniere gee God in Christus jou sy genade om aan Hom alleen toegewy te wees?
- Wat beteken die woorde identiteit, integriteit en intensionaliteit vir jou wanneer dit kom by jou omgang met ander mense?