Hebreërs 1:4-14
NGB Artikel 10
‘Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: “Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.” En ook: “Ek sal vir Hom ‘n Vader wees en Hy sal vir My ‘n Seun wees.”
JESUS CHRISTUS VERHEWE BO DIE ENGELE
In die Hebreër brief word die evangelie van ons Here Jesus kragtig verkondig. Die Here maak hier sy gemeente deeglik bewus van ’n feit – Sy Seun is God. Sy Seun is die Messias. Hy is die Redder. Hy is die laaste profeet. Na Hom sal daar nie nog iemand kom nie. Die Reddingsplan van die Here word deur Hom voltooi. Om hierdie stelling te bevestig, dat Jesus Christus werklik God is, lewer die skrywer ’n aantal bewyse. Die eerste om die stelling te staaf – toon Hy aan dat Jesus Christus groter as die engele is. Vir die Jode was die engele belangrik. Hulle het ontsag vir hulle gehad. Kyk ons na die geskiedenis van die kerk. Dan sien jy dat engele ook vir die kerk baie belangrik was. Veral in die Rooms Katolieke kerk het die engele ’n belangrike posisie beklee. Reeds in die vyfde eeu het hulle met engele verering begin. Daar is ’n spesiale heiligdom opgerig vir die aartsengel Migael. Daar waar die Woord van die Here op die agtergrond raak. Daar begin die kerk dwaal. Word daar vreemde praktyke ingevoer. Want as hulle Hebreërs 1 gelees het, dan moes dit baie duidelik wees, dat hulle nie die engele kan vereer nie. Daarom is dit vir ons vandag weer goed om ons oë te fokus op die hart van die saak. Ons oë moet wees op Christus. Hy die Seun van God.
Jesus se Naam is groter as die engele sin
‘Hy is hoog bo die engele verhef, net soos wat Hy ‘n Naam geërf het wat uitnemender as hulle s’n is.’ (vers 4)
Jesus is die Seun – Engele is diensknegte
‘Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: “U is my Seun; vandag het Ek U gegenereer.’ (vers 5)
Jesus word aanbid – Engele aanbid Hom
‘Maar wanneer Hy die Eersgeborene weer in die wêreld inlei, sê Hy: En laat al die engele van God Hom aanbid.’ (vers 6)
Jesus sal ewig regeer – Engele sal ewig dien
‘Maar vir die Seun sê Hy: U troon, o God, is vir ewig en ewig, en die septer van geregtigheid is die septer van u koninkryk!’ (vers 8)
Jesus is die Skepper – Engele is skepsels
‘U het aan die begin, o Here, die aarde se fondamente gegrondves, en die hemele is die werk van u hande.’ (vers 10)