Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word
Skriflesing: Daniël 3 Teksverse: 16-18 Sing: Ps. 68-1:1,2,9; Ps. 69-1:1,3,6; Ps. 18-1:9,11; Ps. 119-1:51,52; Ps. 146-1:1,3,8.
‘Sadrag, Mesag en Abednego het geantwoord en vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons het nie nodig om oor hierdie saak aan u ‘n antwoord te gee nie. As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. Indien nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie.”
GOUD WAT DEUR VUUR GELOUTER IS
Koning Nebukadneser kon sy droom klaarblyklik nie vergeet nie. Dit was in sy gedagtes ingeprent. Die groot beeld wat die wêreldryke voorstel. Wie sit bo aan daardie beeld. Niemand anders as hy self nie. Hy is die kop van goud. Hy is die magtigste in die wêreld. Geen ander koning sal soos hom wees nie. Die man is vol van homself. Op ‘n punt neem die hoogmoed oor en word hy waansinnig. Hy wil die wêreld laat sien hoe groot hy is. Is hy nie eintlik soos ‘n god nie? Hy kan dan met mense maak net wat hy wil. Almal sidder en beef voor hom. Elkeen van sy bevele word uitgevoer, dit maak nie saak wat hy sê nie. Daarom wil hy vir die wêreld laat sien, dat hy die kop van goud is. Almal moet voor sy mag neerkniel. Weereens sien ons dat die Here ingryp. Drie gelowige kinders van God, word swaar in hulle geloof beproef. Maar die Here louter hulle. Hy maak hulle in die proses net sterker. Die ander afgodedienaars, hulle word deur die vuur verdelg.
Voor die vuuroond
In koning Nebukadneser se droom was hy die kop van goud. Dit bring hom nou by ‘n ander gedagte. Hy wil ‘n reusagtige beeld (36 meter hoog en drie meter breed) van goud bou. Hier sien ons hoe die antichris aan die werk is. Die duiwel wil die eer van die mens opeis. Hy wil dat hulle voor hom in aanbidding kniel. Hy forseer hulle deur vrees. Want gebeur dit nie, dan wag die vuuroond.
In die vuuroond
Dit is nie hoe die Here te werk gaan nie. Hy dwing niemand om Hom te dien nie. In Johannes 6 het Jesus selfs aan sy dissipels gevra: ‘Wil julle nie ook weggaan nie?’ Ons diens teenoor Hom is liefdesdiens. Dit is vrywillig en nooit verplig nie. Sadrag, Mesag en Abednego ken die Here. Die massas buig in vrees vir die vuuroond, maar hulle vrees vir die Here is groter. Die Here lei hulle deur die vuuroond. Dit deur die Engel van die Here.
Na die vuuroond
Soos goud gelouter sewe maal. Deur die geloof is die krag van die vuur uitgeblus. Die Here het hulle daardeur gelei. Hulle klere het nie eers gebrand nie, hulle het selfs nie na rook geruik nie. Kragtig praat die Here met ons vandag. In die wêreld waar die antichris aanwesig is, sal ons deurlopend stryd voer. Ons kan en moet nie voor die duiwel buig nie. Hierin word ons geloof soos goud gelouter.