Romeine 3:9-31
NGB Artikel 15
‘Almal het trouens gesondig en die eer aan God ontbreek by hulle, en tog word hulle goedgunstig deur sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus.’
ALLES NET GENADE
Ons geloofsbelydenis raak nou die baie belangrike saak van erfsonde aan. In die tyd is die kerk van Jesus Christus geteister met ‘n klomp vrae. Is alle mense regtig sondig? Kan ek vir my eie sondes betaal? Vrae wat vandag nie sommer meer gevra word nie, want die Here is baie duidelik daaroor in die Bybel. In die tyd was die Bybel egter vir baie mense ‘n geslote boek. Deur onkunde het mense nie toegang tot die Woord van God gehad nie. En so is die waarheid vir baie mense verberg. In die Here se Woord leer Hy vir ons, ons is sondig. As ons mooi na Romeine 3 luister, dan is dit baie duidelik, dat op basis van ons eie kragte, sou geeneen van ons, ooit in staat kon wees om onsself te red nie. Daarvoor is ons te sondig. Alle mense is doemwaardig. Dit is elkeen se verdiende guns. Baie hard, maar baie eerlik. Dit is belangrik om dit te besef, want eers as jy dit besef, kan jy die grootheid van die genade verstaan. Al twee hierdie sake sien ons in Romeine 3 en in artikel 15 van die NGB. Ons sien hoe God se regverdigheid en sy liefde bymekaar kom. Met geopende oë deur die geloof, besef jy dan dat dit werklik alles net genade is.
Die verlore mens
Alle mense het in Adam gesondig. Ons hoor dit in die Bybel, dit word in ons belydenisse herhaal. Baie mense hou nie daarvan om dit te hoor nie. Hoe kan iemand nou wil sê – alle mense is sondig. Alle mense is sleg en skuldig. Die reaksie van die sondige mens is amper altyd dieselfde. As die vinger na jou gewys word, wys jy vinnig jou vinger na iemand anders. Na God of iemand anders. Die oorsaak van die ellende en die sonde. Dit lê by die mens self. Dit lê by jou en my. Op die bodem van al die vrae in die wêreld – lê die sondeskuld. Alles is daardeur uit balans.
Die reddende God
Die sondeval het die hart van die mens verskeur. Direk na die sondeval gryp die Reddende Here alreeds in. Hy laat ons nie almal die verdoemenis ingaan nie. Christus is alreeds daar besig. Dit sien ons duidelik in die Here se optrede. Nadat hulle gesondig het, het Adam en Eva gesien hulle is kaal. Hulle het hulle vir mekaar weggesteek, maar ook vir God. Die mens het nie geweet hoe om tot God te nader nie. Die mens kon ook nie tot God nader nie. Maar God laat die mens nie alleen en verward nie. Al verdien die mens dit om nooit weer God se aangesig te sien nie, laat God dit nie daarby nie. Hy soek en roep sy uitverkore kinders steeds in liefde: Waar is jy?