Skip to content
Menu

Daniël 5

‘Dit is dan die skrif wat geskryf is: Mene, mene, tekel ufarsin.

DIE SKRIF TEEN DIE MUUR

Die wyse prediker het geskryf dat daar ‘n tyd vir alles is. ‘n Tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede. ‘n Tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou. ‘n Tyd van inspanning en ‘n tyd van ontspanning. Die gedeelte uit Daniel 5 laat my hieraan dink. Daar is ‘n tyd vir alles. Na ‘n tyd van inspanning het ons ontspanning nodig. Na ‘n harde dag se werk, is dit goed om te ontspan. Om met ‘n stokperdjie besig te wees. Om jou kop skoon te kry voordat jy gaan slaap. As jy nie ontspan nie, word die inspanning op die duur te veel. Dan word jy oorspanne. Dit is gevaarlik vir die mens. Dit sien ons by Belsassar. Die druk word te veel. Dit was ‘n gespanne situasie. Voor die stad se poorte wag die soldate van die vyand. Die koning gee toe onder die druk. Dit was nie ‘n tyd vir fees vier nie. Die druk van die wêreld breek die ongelowige koning. In plaas van dat almal hulle werk doen om die stad te beskerm, vier hulle uitbundig fees. In plaas van om die druk te hanteer, drink hulle hul probleme weg. Hulle vlug in plaas van om te konfronteer. In die proses laster hulle die Here se naam. Dan gryp die Here kragtig in. Hy spreek die koning op ‘n merkwaardige manier aan.

Mené, mené – Die konteks

Belsasar was die kleinseun van Nebukadneser. Sy pa was op die oomblik nie in Babel nie. Hy was êrens anders in die land besig om oorlog te voer. Belsasar is omring deur sy vyande. In sy tyd van nood ontvlug hy die werklikheid en hou fees. Saam met sy vrouens drink hulle wyn in oormate. Buite is daar oorlog, maar binne hou hulle fees. Hulle vergryp hulle selfs aan die tempelvoorwerpe van die Here. Dan gryp die Here in.

Tekél – Die weegskaal

Belsasar word geweeg en te lig bevind. Sy lewe is inhoudloos. So is elkeen se lewe wat nie in diens van die Here staan nie. Elke mens sal eendag voor die regterstoel van die Here verskyn. Daar sal geoordeel word. God weeg. Die enigste rede hoe iemand nie te lig bevind word nie, is as die verdienste van Jesus Christus op die skaal geplaas word. Hierin mag die uitverkorenes deel.

Ufarsín – Die ontknoping

Daardie nag het die Here se oordeel oor Belsasar geval. Die stad het in die hande van sy vyande geval. Hy is doodgemaak. So sien ons dat die wêreldryke een na die ander vernietig word. Hulle moet almal plek maak vir die ryk wat kom. Ook vandag se ryke. Die ryk van Jesus Christus kom in sy volheid. Die ryk met sy hoofstad die nuwe Jerusalem. Sy inwoners – die uitverkore kinders van God.

Gesprekspunte

  1. Hoe kan jy as ‘n Christen die wêreld om jou beïnvloed deur ‘n lig in die duisternis te wees, en hoe onderskei jy jouself van dit wat boos is?