Skip to content
Menu

Daniël 6

‘Toe Daniël te wete kom dat die bevelskrif geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op ‘n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor sy God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het.’

GEFOKUS OP DIE GODSTAD

Daniel in die leeukuil. ‘n Bekende gedeelte. Die meeste van ons het hiervan as klein kinders al gehoor. Maar die leeukuil waaroor dit hier gaan, het ‘n dubbele betekenis. Want behalwe die fisiese leeus waarvan ons gelees het, is daar ook ‘n ander leeu aan die werk. Die tema van die boek Daniel is die stryd tussen Babel en Jerusalem, die antichris en Christus, die duiwel en die Here. Hierdie stryd sien ons baie duidelik in die hoofstuk wat ons gelees het. Want die leeu wat hier aan die werk is, is niemand anders as die duiwel homself nie. In 1 Petrus 5:8 skryf die apostel: ‘Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.’ Hier sien ons hoe hy vir Daniel aanval. Hoe hy hom probeer verslind. En hy is baie gemeen. Hy probeer keer dat Daniel bid. ‘n Ernstige aanval. Dan toon die Here vir ons deur sy profeet, hoe ons teen die aanvalle van die leeu kan staande bly. Hoe ons ook vandag die leeukuil sal oorleef. Dit is net moontlik as ons oë gevestig is op die Here. Op sy werke.

Daniel in die paleis

In die paleis het Daniel sy werk goed gedoen. Sy roeping – bewoon en bewerk – het hy selfs in hierdie omstandighede tot eer van die Here bly doen. Dat Daniel hierdie posisie in die paleis beklee het die ander jaloers gemaak. Met sy regsinnigheid het hy hulle teen die mure uitgedryf. Daarom maak hulle planne om van Daniel ontslae te raak. Hulle soek grond vir ‘n aanklag. Toe hulle nie daarin slaag nie maak hulle ‘n plan om vir Daniel oor sy godsdiens aan te val. In hulle eie oë was dit geslaagd.

Daniel in sy huis

Daniel het die nuwe wet gehoor. Wat is die eerste ding wat hy doen? Hy gaan huis toe en hy bid. Opvallend van sy huis is dat dit vensters gehad het wat oop kon maak in die rigting van Jerusalem. Daniel is gefokus op die troon van genade. Hy verlang daarna. Sy verhouding met die Here is al wat hom in die wêreldstad Babel staande hou.

Daniel in die leeukuil

Sy kollegas sien dat Daniel bid. Direk gee hulle dit aan by die koning. Darius is jammer oor die wet wat hy gemaak het. Daniel moet die leeukuil in. Deur die geloof bly Daniel staande in die leeukuil. Selfs daar beskerm die Here hom van ‘n sekere dood.

Gesprekspunte

  1. Waarom is jou karakter (die optrede of die manier waarop jy leef) so belangrik vir God? Met ander woorde, hoe wys jou gedrag in wie ons glo?