Romeine 9:6-33
NGB Artikel 16
‘Soos daar geskryf staan: “Jakob het Ek liefgehad, maar van Esau het Ek ‘n afkeer gehad.” Wat sal ons dan sê? Is daar dan enige onreg by God? Geensins! Vir Moses sê Hy tog: “Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm, en Ek sal barmhartig wees teenoor wie Ek barmhartig wil wees.” Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm.’
GOD SE VERKIESING STAAN VAS
Hoekom ontvang sommige mense geloof van God en ander mense nie? Dit is mos nou oneerlik dat die Here vir die een geloof gee, en vir die ander ongeloof. Dat die Here saam met een groep mense wil leef tot in ewigheid, en ‘n ander groep laat Hy die verderf in gaan. Is dit nie oneerlik en liefdeloos nie? Dit is vrae wat deur die loop van die eeue al baie gevra is. Vrae waarmee die duiwel christene uitmekaar gedryf het en dryf. En tog is die Here se Woord duidelik hieroor. Ons antwoord vanuit die Skrif: Nee, God is nie onregverdig nie. Almal verdien die dood. God hoef niemand te red nie. Hulle wat Hy red doen Hy net uit genade. Hulle wat Hy nie red nie verdien die ewige dood. Dus is Hy nie onregverdig nie. Die Here het vrymag om te kies wie Hy wil. Dit het ons saam gelees in Romeine 9:13 – “Jakob het Ek liefgehad, maar van Esau het Ek ‘n afkeer gehad. Wat sal ons dan sê? Is daar dan enige onreg by God? Die Here kies wie Hy wil. Hoe Hy te werk gaan, gaan ons verstand te bowe. Al wat ons weet is dit: Dat ons mag deel in sy uitverkiesing is net genade. Vir geen een oomblik mag ons twyfel, aan dit wat God doen nie. En ook – Sy besluite staan vas. Van ewigheid tot ewigheid.
God se besluit is ewig
Alreeds voor die grondlegging van die aarde het die Here se verkiesing plaas gevind. Reeds toe het Hy besluit saam met wie Hy tot in ewigheid sal leef. In Romeine 9 skryf Paulus dit. Nog voordat die kinders gebore is het die Here vir Jakob liefgehad en vir Esau gehaat.
God se besluit is barmhartig en regverdig
God is barmhartig om sekere mense in Christus in te lyf. Hulle word deur God uitverkies. God is ook regverdig om ander die verdoemenis te laat ingaan. Dit is die takke wat nie vrug dra nie. Individue wat se harte verhard is vir Christus en die evangelie. Hulle haat God en hulle haat hulle naaste. Sulke mense is deur God verwerp.
God se besluit gee troos
Vir die uitverkorenes gee die Here ‘n diepe troos. Deur die geloof mag ons daarin deel. Deur die werk van die Heilige Gees werk die Here sekerheid in ons harte. Met oortuiging weet ons – God se verkiesing staan vas. In ewigheid sal ons saam met God leef.