Daniël 7
‘Ek het gekyk totdat trone opgestel is, en ‘n Oue van Dae plaasgeneem het. Sy kleed was wit soos sneeu, die hare van sy hoof soos suiwer wol. Sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan vlammende vuur. ‘n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die boekrolle is oopgemaak.’
DIE BOEKE IS GEOPEN
Hoe lees jy koerant? Hoe luister jy na die nuus op die radio? Hoe kom nuusberigte by jou binne? ‘n Predikant het ooit gesê dat hy die koerant lees om te sien hoe God die wêreld regeer. Dit is seker die beste manier hoe om koerant te lees. As jy dan lees of hoor van al die ongelukke, oorlogsdade en ekonomiese rampe, dan kan jy weet dat God bo dit alles staan. Die nuusberigte wat elke dag by ons uitkom, bevestig maar net vir ons, wat die Here in sy Woord al baie lank gelede gesê het. Die Skrif gee nie vir ons die details hoe die geskiedenis verloop nie. Die groot lyne waarvolgens die wêreldryke beweeg word wel bekend gemaak. Duidelik word dit uitgelyn. Selfs die eenvoudigste kind van God kan dit raaksien en verstaan. Kan verstaan dat al lyk dit of alles tot niet gaan, God nog al die tyd in beheer is. Dit het die Here al lank terug vir ons in die openbaring van Daniel bekend gemaak. Ons sien dit in die drie onderwerpe wat in hoofstuk 7 aanwesig is. Die eerste is die vier diere. Die tweede is die almagtige God, wat as die Oue van dae aangedui word. En derdens gaan dit oor die Seun van die mens. Dit is Jesus Christus.
Die verskyning van die vier diere
Daniel kry ‘n visioen. Hy sien ‘n groot see wat deur vier winde in beroering gebring word. Uit die see kom vier diere te voorskyn. Hulle stel verskillende wêreldryke voor. Die vier diere wat verskyn is ‘n – ‘n Leeu met die vlerke van ‘n arend en die hart van ‘n mens. ‘n Beer met drie ribbes in sy bek. ‘n Luiperd met vier vlerke en vier koppe. Die vierde dier kan Daniel nie met ‘n naam beskryf nie.
Die oordeel oor die vier diere
Bo die woeste see sien Daniel ‘n troon verskyn. Op die troon sien Daniel die Here. Hy beskryf Hom as die Oue van dae. Hy sal oor die vier diere oordeel. Hierin sien ons dat die diere verganklik is. Hulle kom en hulle gaan. Die Here is standvastig. Hy staan bo hulle. Van ewigheid tot ewigheid regeer Hy.
Die verlossing uit die hand van die vier diere
‘en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens…’ Ons weet baie goed wie die Seun van die mens is. Dit is Jesus Christus die Koning van die heelal. Hy is die Regter van die hemel en die aarde. Dit gee vir ons troos in die tyd wat ons leef. Dit maak nie saak hoe erg die wêreldryke tekere gaan nie, ons houvas en ons enigste hoop is Jesus Christus.