Skip to content
Menu

Jesaja 9:1-6
Openbaring 5:1-14
NGB Artikel 17

 ‘Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.’

DIE HEERSKAPPY VAN ONS VREDEVORS JESUS CHRISTUS

In die gedeeltes wat gelees is, openbaar God Homself op ’n besondere manier aan ons. Deur sy profeet het Hy ’n boodskap wat oorgedra moet word. Die boodskap wat Jesaja moet oordra is die kern van die evangelie. ‘Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors’ Lank voordat Jesus gebore is in Nasaret profeteer Jesaja oor Hom. Hy profeteer oor sy geboorte. In die boek Jesaja gaan dit meerdere male oor Jesus. In Jesaja 7 word geprofeteer van Immanuël. ‘Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immanuël noem’ (vers 14) Immanuël beteken God met ons. Deurlopend in die boek Jesaja gaan dit oor Jesus. In hoofstuk 9 word oor die Messiasryk geprofeteer. Die ryk word aangekondig. Hier word geprofeteer oor wat Jesus vir ons gaan doen. Tussen die strafgerigte wat God oor sy volk het, kondig Hy uitkoms aan. Dié uitkoms word werklikheid in Christus. Deur sy heerskappy sal daar vrede wees op aarde. Sy heerskappy is anders as enige wêreldse heerskappy. Dit is uniek en besonder. Eiesoortig, nie menslik nie maar Goddelik. Die uniekheid hiervan is gekoppel aan die persoon Jesus Christus. Jesaja profeteer wat die Kind gaan doen.  Jesaja profeteer van sy heerskappy.

Die aankondiging van Jesus Christus

In die Woord van die Here het ons gehoor dat Jesaja ‘n boodskap vir die volk Israel het. Dit is Immanuël – God met ons. Israel is in ‘n moeilike situasie. Die oorlog woed aan alle kante. Hulle verlang na die Messias. Nou mag hulle hoor Hy kom.   

Die waardigheid van Jesus Christus

In Openbaring 5:2 roep ’n engel met ’n groot stem uit: ‘Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?’ Jesaja profeteer oor Hom wat gaan kom. Hy praat oor die kind wat gebore sal word. En Hy sal genoem word: ‘Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.’ Wie is waardig om die boek oop te maak? Dit is Hy. Ons Vredevors, ons Here Jesus Christus.