Skip to content
Menu

Daniël 8

‘Kyk, ek gaan aan jou bekend maak wat sal gebeur aan die einde van die vervloeking, want dit verwys na die vasgestelde tyd aan die einde.’

‘N BLIK OP DIE EINDTYD

‘n Ingewikkelde profesie. Ons het gehoor van ram en ‘n bok. Van hulle horings. Hoe dit gebreek word as hulle mekaar stormloop. Die profesie van Daniel 8 is nie so maklik om te verstaan nie. Jy moet dit ‘n paar keer lees, om te sien wat nou hier gebeur. Toe Daniel die gesig gesien het, was dit vir hom ook nie so duidelik nie. Vers 15 sê dit – ‘Ek het probeer om dit te verstaan.’ Dan toon die Here vir Daniel aan wat hier gebeur. Hy gee vir sy engel Gabriel in vers 16 opdrag om dit uit te lê. ‘Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan!’ Dan maak Gabriel vir Daniel bekend waaroor dit hier gaan. En daardeur kan ons dit ook vandag verstaan. ‘Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.’ Dit is waaroor die visioen gaan. Die Here gee vir Daniel, en ook vir ons vandag hier, ‘n blik op die eindtyd. ‘n Blik op die tyd voor Christus se eerste koms en vir ons ook voor sy wederkoms.

Die vervolging – Die harige bokram

Die diere in die visioen is nogal vreemd. Hulle is weer anders as die diere van die vorige hoofstuk. Wat met hulle horings gebeur is heeltemal eienaardig. Daar is groot horings, klein horings, horings wat uit ander horings uitkom. Maar as Gabriël verduidelik en dit vergelyk met die wêreldgeskiedenis, dan word dit meer verstaanbaar. Die koning waaroor dit aan die einde in Daniel 8 gaan is Antiochius Epifanes. Hierdie man is die verskyning van God se groot vyand, die duiwel. Hy tipeer die antichris wat deur die eeue heen sal verskyn. Op verskriklike maniere het hy die volk van die Here vervolg. Eers met listige streke (sagte vervolging) en daarna met geweld (harde vervolging). Dit is presies die taktiek wat die antichris vandag nog gebruik.

Die toekoms – Die Lam wat geslag is

In vers 13 word daar gevra: Hoe lank nog? Hierop gee die Here antwoord – 2300 dae. Die boodskap van die visioen is dat al is die vervolging hoe swaar, God staan bo dit. Hy maak ‘n einde daaraan. Hy gee vir ons perspektief. Ons toekoms is in sy hand. Vandag het ons die perspektief van die kruis. Ons lyding sien ons in die lig daarvan. Jesus Christus het sy lewe gegee sodat ons kan lewe. Hy die Lam wat geslag is, oorwin. Hy heers oor al die diere wat op die aarde sal opstaan.