Skip to content
Menu

Johannes 1:1-14
1 Johannes 2:3-17
NGB Artikel 18

 ‘Daar was ‘n man, gestuur deur God, wie se naam Johannes was. Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld.’

MY IDENTITEIT IN JESUS CHRISTUS

Hoe bepalend is kultuur vir die vorming van ‘n klein mens? Ons kultuur het sy eie voor en nadele. Wat baie eie aan ons kultuur is, is gedrewenheid. Die beste wees. Presteer. Dit begin al op ‘n jong leeftyd. As ouers sorg jy dat jou kinders van kleins af die beste opvoeding kry. Genoeg blootstelling aan buitemuurse aktiwiteite. Op skool moet jy presteer sodat jy toelating tot ‘n goeie universiteit kry. Daar moet jy hard studeer sodat jy eendag ‘n goeie werk kry. As jy werk moet jy hard werk om in jou loopbaan te groei. En as jy jou oë uitvee is die lewe verby. Ons kultuur word nogal geken aan gejaagdheid. Daar is niks verkeerd met harde werk nie. Niks verkeerd om gedrewe te wees nie. Dit is ook ons opdrag. Maar, stap jy die pad saam met God? Wandel jy saam met Hom in hierdie lewe? Saam met sy Seun wat mens geword het, sodat jy saam met God in ‘n verhouding kan leef? Dit is waarby ons belydenis ons vanaand bring. Jesus Christus het mens geword soos ons, om ons te red. In kort bring dit ons vanaand hierby: In hierdie besige lewe: Wie is jy? Waarmee is jy besig? Leef jy in die lig Jesus Christus?

God is die ware lig

Johannes die doper het ’n besondere roeping van God af ontvang. God gee vir hom ’n spesifieke opdrag. Soos vele profete voor hom mag hy vir Jesus aankondig. Hy is geroep om te vertel van die lig. Die lig waaroor ons gelees het in vers 5: ‘En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.’ en in vers 9: ‘Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld.’

Ons wandel in die ware lig

Wat beteken dit om in die lig te wandel? Die teenoorgestelde daarvan is om in die duisternis te wandel. In die eerste brief van Johannes maak hy hierdie beeld baie konkreet. Hy wat die gebooie van Jesus nie bewaar nie, hy is ’n leuenaar en in hom is nie waarheid nie. Hy wat sy medegelowige nie lief het nie, maar haat. Hy wat die wêreld lief het. Hy wat verknog is op aardse besittings. Hy wandel in die duisternis. Die sake wat Johannes aanspreek in sy brief geld nog vir ons vandag presies net so. Die wêreld werk nog steeds op dieselfde manier. Jy moet presteer. Jy moet die beste uit die lewe haal. Dit is nie hoe jy in die lig wandel nie. In teendeel: om in die lig te wandel beteken presies die teenoorgestelde.

Ons getuig van die ware lig

Johannes die doper het van die lig getuig. Vers 7 en 8 benoem dit. ‘Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig…’ Vandag sluit ons hierby aan. Ons is lewende getuies van Jesus Christus. Hy wat mens geword het om ons te red.