Die geweld, bedrog en bandeloosheid maak nie alle mense gelyk nie.
Inleiding: Dit voel of die baie geweld, bedrog en bandeloosheid in ons land alle mense gelyk maak. Almal loop deur. Almal moet maar op een of ander manier ’n plan maak om met hulle lewe voort te gaan. Soos in die bose tyd waarin Noag geleef het, gaan mense maar gewoon voort om te eet, te drink en te trou (vgl. Lukas 17:27).
Maar tog is dit nie waar dat almal deur die boosheid op die aarde gelyk gemaak word nie. Uit die gelese gedeelte kan ons sê dat daar tussen “gelykes” mense is tot wie se seën God opgetree het.
Tussen die “gelykes” is daar hulle agter wie God die deur toegemaak het.
Lees ’n mens die gedeelte goed, kom jy agter dat die klem sterk val op God se optrede teenoor Noag. Dit is God wat Noag begenadig (vgl. 6:8), dit is Hy wat opdrag gee om die ark te bou en in die ark in te gaan (6:14 e.v.), dit is Hy wat Noag tydens die vloed “onthou” en hom na veiligheid neem (8:1 e.v.). In die sentrum van God se optrede staan die feit dat God self die ark agter Noag en sy gesin toemaak (7:16). God se volkome bewaring van sy kinders word sigbaar! Tussen die “gelykes” in die tyd van Noag, is daar hulle agter wie God finaal die deur toegemaak het – mense wat nie meer binne sy oordeel verkeer nie.
God se toemaak van die deur agter sy kinders, word eers eeue ná Noag ten volle duidelik. Dit is in Christus wat God ons “begenadig.” Wanneer Christus belaai met ons sonde God se oordeel binnestap, word ons uit die oordeel gehaal – stap ons die ark van God se genade binne en word die deur agter ons finaal deur Christus en die Heilige Gees finaal verseël.
Die wat deur God ingesluit is, is besig met “vreemde” dinge.
- Vreemde geborgenheid. Hierdie mense leef binne die geweld, bedrog en die bandeloosheid, toegesluit in ’n goddelike geborgenheid. Die kwaad op hierdie aarde raak hulle wel intens, maar onder leiding van die Gees vind hulle vertroosting en geborgenheid by God.
- Vreemde gedrag. Soos heiligmaking (anders as die mense van sy tyd) in Noag se lewe sigbaar was (vgl. “regverdigheid”, “vlekloosheid”, en “met God gewandel”) so toon die lewe van gelowiges ook dat hulle aan God behoort.
- Vreemde verkondiging. Wanneer God die ark se deur toesluit, word die ongelowiges daarmee ook uitgesluit. Hulle wat deur God bewaar word, verkondig hierdie boodskap aan die mense om hulle.