Die regstreekse uitsending is hier beskikbaar.
Skriflesing: Handelinge 4:1-22 Teks: 12 Sing: Sb. 1-2:1,2,3; Sb. 12-3:1,2; Ps. 25-1:2,7; Ps. 118-1:11; Ps. 34-1:6; Ps. 107-1:1,4,10.
“Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.”
KANSEL KULTUUR || CANCEL CULTURE
Die Woord bring wrywing
Laat elkeen tog lekker sy eie ding doen. Dit is die leuse in ons tyd vandag as dit oor heelwat dinge gaan. As daar in die samelewing gepraat word oor aktuele sake, dan is dit die inslag. ‘n Voorbeeld om dit te beskryf: In die meeste Westers lande is daar oor die laaste jare wette ingevoer dat mense van die selfde geslag met mekaar kan trou. Selfdegeslag huwelike. ‘n Aktuele saak, ook in ons eie land. Hoe verloop ‘n gesprek baie keer oor so ‘n saak? As jy standpunt inneem en stel dat die Here in sy Woord, die huwelik tussen man en vrou ingestel het, en dat seksualiteit daarbinne uitgeleef word, kom die gesprek gou daarop neer, dat jy as Christen onverdraagsaam voorkom en vervolgens word jy met jou ‘mening’ aan die kant geskuif. Want – Laat elkeen lekker sy eie ding doen. Hoekom wil jy die ander iets ontsê? Hoekom wil jy ander mense se geluk wegvat? Jy wil net jou outydse idees op die hele samelewing afdwing!
Die teks in konteks
Twee nuwe terme wat die laaste tyd meer gehoor word is Woke en Cancel Culture. Terme wat in ons postmoderne wêreld na vore kom. ‘n Wêreld waar massas mense van kerklike gesag wegbeweeg het. Die gevolg: waar die kerk gesag gehad het op morele terrein, moet iets ander dit nou bepaal. Dan tree ander geeste en magte na vore. Een is wokisme. Dit skets ‘n bepaalde raamwerk waarbinne die publiek bepaal wat reg en verkeerd is. Meestal fokus dit op genderaangeleenthede, rassisme en dekolonisasie. Die abnormale word normaal. In die opsig pas Koning Willem se verskoning oor slawerny soos ‘n handskoen. Dan kan dit baie keer opreg en mooi lyk, maar sodra daar van die publieke mening verskil word, dan kom die vlymskerp tande uit. Dan sien jy hoe onseker en hipergevoelig die samelewings is. As iemand beskuldig word van ‘n politieke inkorrekte uitspraak, moet die persoon in die publiek afgestof word. Die persoon word gecancel. Cancel Culture: dit sluit afwykende menings uit die debat uit. Hiermee word christene gereeld aan die kan geskuif. Lees jy Handelinge 4 dan is dit nie nuut nie. Toe Petrus en Johannes van die Waarheid – Jesus Christus getuig, word hulle in die tronk gegooi en gedreig.
Een Naam – Jesus Christus
“Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.” In hierdie woorde is daar nie ‘n laat elkeen maar sy eie ding doen nie. Hierin hoor jy nie ‘n ‘my opinie – jou opinie’ nie. In die Grieks is die verwerping van ander opsies selfs duideliker. Daar is geen verlossing in iemand anders nie. Daar is net een Naam en Hy is die Waarheid.
Een Naam vir almal
Jy het hom nodig. Ek en jy en elke mens het Hom nodig! Dit is nogal treffend uit die teks. Petrus sê nie vir die leiers daar – ‘julle moet gered word nie!’. Hy sê: “Daar is geen ander naam waardeur ons gered moet word nie.” Hy, en ook ons almal. Christene moet versigtig wees om hulself nie bo ander te verhef nie. Asof ons dit het en nou voorskriftelik vir ander dinge neerlê. Ons opdrag is om te getuig van die pad van redding. Almal het dieselfde nodig. Jesus Christus en redding deur hom. Die verskil tussen ons en ander. ‘n Kind van die Here het Hom deur die geloof omhels. Dit is net genade.