Skip to content
Menu

Ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria.

Ons bely telkens dat Jesus ‘ontvang is van die Heilige Gees’ en ‘gebore is uit die maagd Maria’. Hierdie is ‘n unieke en ingrypende belydenis wat ons onder leiding van die Heilige Gees en uit die Bybel goed moet deurdink. Let uit Johannes 1:1-14 op die volgende:

Daar is ‘n radikale onderskeid tussen die Woord en die heelal.

Johannes sê dat daar in die Woord lewe was. Hy bedoel daarmee dat daar nooit ‘n tyd was wat die Woord sonder lewe was nie.  Die Woord het nie iewers begin ontstaan nie. Soos die Vader het die Woord die lewe in Homself (vgl. 5:26). Dit is ‘n feit dat die Een wat uit Maria gebore is, ‘n ware mens soos ons is. Dit is egter ook ‘n feit dat daardie Mens radikaal verskil van alle ander mense en ook van die totale heelal.  Die Een wat in Maria ontvang is en uit haar gebore is, is die Woord en Hy het die lewe in Homself.

Die lewe in die Woord was en is die lig vir die mense.

Die lewe in die Woord, lees ons in vers 4, was die lig vir die mense. Die lewe in die Woord het vir ‘n deel van God se skepping ‘n besondere betekenis gehad, naamlik vir die mense. Die lewe in die Woord, het lig gegee aan mense – alle mense deur die eeue heen. Met hierdie “lig” verwys Johannes waarskynlik na die feit dat die mens, anders as byvoorbeeld ‘n dier, God kon ken en in ‘n verhouding met Hom kon leef. Vanweë hierdie lig, sal elke mens verantwoording moet doen of hy/sy in hierdie lig geleef het (vgl. Rom. 1:20). Hy wat uit Maria gebore is, is die Een in Wie die lewe was – dié lewe wat die lig vir die mense was.

Toe die Woord vlees word, was ‘n eeue oue stryd reeds aan die gang

In die Woord-lied in Johannes 1 hoor ons van die “duisternis.” Dit is duidelik dat met “duisternis” na die Bose verwys word, na Satan en sy magte. Deur die eeue heen het die duisternis gepoog om die lig wat van die Woord kom, te oorweldig – om die mensdom se ken van God en in gehoorsaamheid aan God leef, uit te wis. Dink aan die sondeval, die moord deur die eerste mens wat gebore is, die toestand voor die sondvloed, Israel se aanbidding van die kalf net ná hul verlossing, ens. Toe die Woord vlees geword het, was ‘n eeue oue stryd reeds aan die gang.

Met die ontvangenis in Maria is ‘n oorwinning van die lig aan die orde.

Die duisternis kon die lig nie uitdoof nie, lees ons in vers 5. Hierdie oorwinning is die een realiteit wat aan die orde is toe die Woord vlees word. Pogings van die duisternis om die lig uit te doof deur aanslae op die Woord, is wel gemaak. Dink aan Herodes se optrede, aan die versoekings in die woestyn, aan Judas se verraad (vgl. Joh. 13:30), ens. Met die kruisiging van Jesus lyk dit of die duisternis wel die lig uitgedoof het.  Daar het toe selfs duisternis oor die aarde gekom! Maar juis hiervoor het die Woord vlees geword. Hy wat God volmaak geken het en in ‘n volmaakte verhouding met Hom geleef het, oorwin die duisternis deur die donkerte van God se oordeel volledig te dra – vir sondaar mense. Hy haal mense deur sy oorwinning uit die duisternis en maak hulle mense van die lig.

Deur die Woord hou die lig aan skyn en dit skyn in die duisternis.

In vers 5 word gewys op die realiteit dat die lig in die duisternis skyn. Ons moet op die volgende let: i) die lig hou aan skyn (vgl. die teenwoordige tyd van die werkwoord); ii) dit is steeds die lig wat van die Woord kom (nou die Regeerder) wat nou skyn; iii) dit skyn juis in die duisternis en iv) dit skyn wanneer mense in Jesus Christus glo en Hom gehoorsaam  (vgl. Joh. 3:21; 8:12; 9:5; 11:9; 12:35 en 12:36).