Skip to content
Menu

Leef elke dag bewustelik onder God se regering.

Ons leef nie vanselfsprekend bewustelik onder God se heerskappy nie.

Die tyd toe God die visioen (volgens hoofstuk 7) aan Daniël gegee het, word spesifiek aangedui.  Dit was aan die begin van Belsasar se regering. Vir die volk onder die regering van hierdie seun van Nabonidus, was baie dinge onseker. In hierdie tyd het gelowiges  met baie vrae geworstel.  Wat hou die toekoms in?  Waar sal dinge eindig? Wat is die doel van alles? Deur die visioen wat God aan Daniël gee, lei God die volk om binne hulle omstandighede bewustelik onder sy regering te leef.

Hoewel die besef van God se regering die een belangrike saak is wat gelowiges van ongelowiges skei, leef gelowiges nie vanselfsprekend bewustelik onder God se regering nie. Die golwe in ons wêreld wat deur verskillende winde voortgedryf word (dink nou maar aan die huidige gebeure in die Midde-Ooste), gryp dikwels ons aandag so vas dat God se regering vir ons ‘n totale onwerklikheid word.

Om bewustelik onder God se regering te leef, onthou nuut en vars dat…:

– die triomfantlike magte (met respek gesê) op God se hofrol is.

Daniël sien in die visioen die groot see onstuimig word en vier groot diere uit die see kom. Die vier diere wys op verskillende regerings: Nebukadnesar en sy opvolgers, die Mede en Perse, Alexander die Grote en sy opvolgers en dan die Romeine en die ryke wat daarna volg tot die tyd van die Antichris aanbreek. Elk van die ryke kom op ‘n unieke manier triomfantlik voor (v. 4-8).

Wie egter noukeurig lees, merk op dat dit ‘n valse triomf is (let op woorde wat God se beheer aandui: “afgeruk” en “gegee”, v. 4; “vir hom gesê…”, v. 5 en “gegee” (v. 6). Dit is egter eers wanneer Daniël in die visioen sien hoe God in sy heerlikheid (v. 9) gereed maak om te oordeel (10) dat die valse mag van die regerings duidelik word. Eerste word gehandel oor die Antichris wat finaal vernietig sal word (v. 11) en daarna oor die regerings wat God reeds vroeër op sy tyd en wyse geoordeel het (v. 12).

Om bewustelik onder God se regering te leef, moet ons nuut en vars onthou dat die triomfantlike magte op God se hofrol is.

– ons (met respek gesê) ‘n besondere plek in God se sakelys inneem.

In die hofsitting is daar ‘n verrassende wending.  Dit is nie God se volk wat voor die Allerhoogste ingebring word nie. Die volk is juis in ballingskap omdat hulle in hulle volharding in sonde nie meer voor God kon verskyn nie. Die Een wat tot voor die Allerhoogste kom, is die Seun van die mens (v. 13).  Dit dui eerstens daarop dat hierdie Een ‘n ware mens is.  Tog is dit duidelik dat Hy nie net mens is nie.  Hy kom “met die wolke” wat op sy verhewenheid, sy Godheid, dui.  Hy is ook ware God. Soos met die ander regerings ontvang ook Hy heerskappy uit die hand van die Allerhoogste (v. 14). Sy heerskappy is egter totaal anders as die ander ryke. Sy ryk is ‘n ewige ryk en Hy regeer oor almal.

Maar dan kom daar ‘n verdere verrassende wending. Sondaarmense word skielik “heiliges” genoem en deel in die Seun van die mens se koninklike heerskappy. Uit die Nuwe Testament weet ons dat hierdie “Seun van die mens” ons Here Jesus Christus is wanneer Hy meer as tagtig keer so na Homself verwys. Deur Hom is ons heiliges en deur Hom kan ons voor God kom.  Hy is die Een wat ons aanbid.  Hy het alle mag van sy Vader ontvang en Hy regeer oor alles sy kerk ten goede. Al het ons nie antwoorde op alle vrae nie, weet ons van die besondere plek wat ons op se God sakelys inneem.