Handeling 8:26-40
‘Filippus het nader gehardloop, hom die profeet Jesaja hoor lees, en gevra: “Verstaan u wat u lees?” Hy het geantwoord, “Hoe sou ek kon, as niemand dit vir my verduidelik nie?” en Filippus genooi om op die wa te klim en by hom te kom sit.’
VREUGDE DEUR DIE WOORD EN GEES
In Jerusalem is daar ‘n swart man. ‘n Belangrike man. Die minister van finansies, van die Kandake, die koningin van Ethiopië. ‘n Swart man met ‘n hoë stem. Hy was ‘n eunuch. ‘n Ontmande. Hooggeplaaste amptenare van die Kandake is gekastreer. Dit het die risiko’s vir die koningin en haar gevolg beperk. Wat maak hierdie man in Jerusalem? Is hy ‘n toeris, wat die heilige plekke besoek om iets van God te ontdek? Was hy ‘n proseliet, iemand uit die heidene wat die God van Israel aanbid? Was hy daar op ‘n staatsbesoek, om kontak met die Jode in stand te hou? Ethiopië het ‘n groot Joodse gemeenskap. Eintlik was daar ‘n jare lange verhouding tussen Israel en Ethiopië. Eeue gelede het daar ‘n vriendskap tussen die koningin van Skeba en die koning van Israel Salomo ontstaan. Daarvan word in Psalm 72 gesing – ‘en Skeba met die ver weg lande,stuur goud en vredesbee.’ Hierdie eksotiese man, mog die heilige tempel nie binnegaan nie. Om God te aanbid moes hy van die binneplein doen. Maar tydens sy besoek, het hy wel een van die heilige boeke bekom. Dit was waarskynlik nie goedkoop nie. Boekrolle was kosbare items. Dit het hy gelees. Hardop dat die mense dit kan hoor. En hy besef. Dit gaan hier oor iets. Hier word iets belangrik bespreek. Dit raak my. Persoonlik. Iemand word verneder. Word na die slagpale gelei. Dit verstaan hy nie. Hy lees dit hardop, hy soek na die betekenis.
Verstaan jy wat jy lees?
Verstaan u wat u lees? Die antwoord van die man. Nee, ek het geen idee nie. Was daar maar iemand wat dit vir my kan verduidelik. Dan nooi hy vir Filippus om by hom op die wa te sit om te verduidelik. Vandag dank ons die Here vir die groot Hervorming, 500 jaar gelede. Toe het die Bybel vir almal beskikbaar geword. Deur vertalings in die volkstaal. Deur die uitvinding van die boekdrukkuns. Deur voorgangers wat Woord uitlê en toepas.
Jesus Christus is die lam van god
‘n Skaap, ‘n Lam. Geslag en geskeer. Verneder en onreg aangedoen. Geen toekoms op die aarde nie. Oor wie praat die profeet Jesaja? Oor homself of oor iemand anders? Dit vra die minister vir Filippus. Gaan hierdie gedeelte dalk oor hom as vernederde? Maar dan hoor hy. ‘Filippus het begin praat, en vanuit hierdie Skrifgedeelte die evangelie van Jesus aan hom verkondig.’
Die reis gaan met blydskap voort
‘Toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus weggeneem; en die eunug het hom nie meer gesien nie, maar hy het sy reis met blydskap voortgesit.’ Sy reis gaan verder. Met blydskap. Hy is ‘n kind van die Here wat Hom aanbid. Hy ontvang ‘n profetiese rol. Hy mag vir sy mense gaan vertel van Jesus Christus. Die Verlosser wat Filippus aan Hom bekendgestel het. Deur die woorde van ‘n eenvoudige man werk die Here. In die hemel word daar feesgevier. Nog ‘n persoon wat die Lam van God volg.