Skip to content
Menu

Openbaring 12

Deur Jesus Christus alleen

“Toe het ek ‘n harde stem in die hemel hoor uitroep: Nou het die verlossing en die krag en die koningsheerskappy van ons God deurgebreek, en ook die volmag van sy Christus, omdat die aanklaer van ons broers uitgegooi is, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. Húlle het hom oorwin, op grond van die bloed  van die Lam, en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens  liefgehad nie. Daarom, juig hemel en diegene wat in die hemel woon! Wee julle, aarde en see, want die Duiwel het met groot woede na julle neergedaal, omdat hy weet dat hy min tyd  oor het.”

Ons het ’n indrukwekkende gedeelte saam gelees. Die oorlog tussen die draak en die vrou. Die bloeddorstige stryd. In hierdie oorlog gee die Seun van God deurslag. Die stryd word oorwin deur die bloed van die Lam. (vers 11) Dit is Jesus Christus. In Openbaring word die kern van die evangelie beskryf. Net deur Jesus Christus word die oorlog gewen. Word jy en ek gered. Verlos van die duiwel, die dood en die sonde. Jesus Christus. Ons ken Hom. Ons weet wie Hy is. Hy wat nou op hierdie oomblik vir ons in die hemel voorspraak doen. In ons geloofsbelydenis bely ons heelwat oor Hom. Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is; neergedaal het in die hel; wat op die derde dag opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. Jesus Christus ons Verlosser. Hy is verneder tot in die hel om ons te red. Hy is verhoog tot in die hemel as ons Koning. Hy is ons Redder. Net Hy. Niks of niemand anders nie. Aan die hand van Openbaring 12 plaas ons vanaand hierop die fokus. Die stryd wat Jesus Christus vir ons gestry het, en nogsteeds stry. Solo Christo.

Oorwinning in die hemel (vers 1-11)

In Openbaring 12 lees ons van die stryd tussen die draak en die vrou. Dié vrou is swanger. Uit haar gaan ’n Seun gebore word. Dit is Jesus Christus. Die duiwel wil dit met alle mag en mening keer. Na die geboorte van die Seun kom daar oorlog in die hemel. Die oorlog word gewen deur die bloed van die Lam. Jesus Christus gee die deurslag aan die kruis op Golgota. Oorwinning in die hemel. Die duiwel word uitgewerp op die aarde.

Oorwinning op die aarde (vers 12-17)

In die hemel is die stryd gestry. Op die aarde gaan dit verder. Die oorlog duur voort. Soos ’n brullende leeu gaan die duiwel hier tekere. Hy soek die kinders van die Here. Hy vervolg hulle op wrede maniere en ook op sagte listige maniere. Die vrou, die kerk van Jesus Christus, word bedreig. Die Here gee vir haar veiligheid. Hy rus die kerk toe met ’n wapenrusting van die geloof. Ons oorwin die duiwel in Christus. Altyd bly ons eiendom van Hom ons Redder. Gekoop deur sy bloed. Deur Jesus Christus sal ons die veldslae bly stry. Deur Hom alleen sal ons oorwin.