Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier verkry word.

Skriflesing: Johannes 17      Teksvers: 11        Lees: NGB Artikel 26      Sing: Ps. 47:1,3,4; Ps. 110:1,5,6; Sb. 5-4:1,2,5,6; Ps. 18:1,2,14.

‘Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is nog in die wêreld, en Ek kom na U. Heilige Vader, bewaar hulle wat U aan My gegee het in u Naam, sodat hulle, net soos Ons, een kan wees.’

LEEF ONDER DIE VOORBIDDING VAN ONS HERE

Om vir mekaar te bid is seker die grootste manier van omgee. Dit is wonderlik om mekaar by Christus te bring. Dit is ‘n kragtige bemoediging as jy vir iemand sê: Ek bid vir jou. Om te besef dat daar mense rondom jou is, wat jou lewe aan die Here opdra. Die Here plaas ons as bidders om mekaar heen. Nooit is ons alleen in gebed nie. Gebed roep ware kontak met mekaar op. Bid maak ons aktief. Tog is hier baie vrae hieroor. Vir party mense is dit maklik om te bid. Vir ander nie. Vir die een kom die woorde maklik. Vir die ander moeilik. Een van die dissipels het vir Jesus gevra: Here leer ons hoe om te bid. Dit was volwasse manne wat al hulle hele lewe lank bidders was.  Maar ons Here Jesus het ‘n verlange na ‘n verryking van hulle gebedslewe by hulle opgeroep. Here leer ons om voorbidding te doen?

Christus bid vir ons in die hemel

Op hierdie oomblik tree ons Here Jesus vir ons in. Hy is ons voorspraak in die hemel. Hy bid vir ons. Hy is al jare daarmee besig, al eeue. In Johannes 17 sê Hy vir ons dat Hy dit gaan doen. In Hebreërs word dit ook beskryf – ‘Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis… Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.’ Vanuit die hemel gaan Jesus ons voor.

Christus bid vir ons bewaring en heiliging

Bewaar hulle. Dit is wat Christus van sy Vader vra. ‘Heilige Vader, bewaar hulle wat U aan My gegee het.’ Wat word nou met hierdie bewaring bedoel? Dit is ‘n beskerming teen die Bose. In hierdie wêreld het die broers en susters van Christus dit nodig. Christus bid – ‘Vader, bewaar hulle.’ en ook – ‘Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.’

Christus leer ons om vir mekaar te bid

Jesus Christus is ons profeet en leraar, ons Hoëpriester en ons Koning. In ons gebed gaan Hy ons voor. Hy leer ons ook hoe om te bid.  In Johannes 17 bid Jesus voor sy dissipels. Op daardie oomblik is Hy nog by hulle. Hulle hoor. Hulle leer  – sodat hulle vervul word met sy vreugde. Dit is die doel van Jesus se openbare voorbede. ‘Ek sê hierdie dinge terwyl Ek in die wêreld is, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê.’ (vers 13) Dit is die groot verlange van die Here, dat ons onder sy voorbidding kan leef en vandaar ook vir mekaar kan bid. Dat ons in sy blydskap kan leef.