Skip to content
Menu

Bid in die vertroue dat God in sy grootheid en almag by ons is!

Waarheen bid jy jou gebede? Baie gelowiges bid asof hulle praat met iemand wat oneindig ver is. In ons Skrifgedeelte leer ons egter uit die gebed van Salomo dat daar ’n bepaalde vertrouensbasis in ons gebede moet wees. Hierdie gedeelte vorm deel van Salomo se gebed by die tempelwyding. Na ’n geweldige bouprojek is die tempel voltooi. Nou staan die tempel in groot luister as teken van God se teenwoordigheid onder sy volk. Dit staan ook as bewys van God se verbondstrou. Die Here het immers aan Dawid belowe dat sy seun vir Hom ’n huis sal bou. Nou staan daardie huis, as teken van God se teenwoordigheid, as bewys van sy getrouheid. Nadat Salomo die Here dan daarvoor in sy gebed geprys het spreek hy sy verwondering daaroor uit.

Verwondering oor Immanuel

Salomo roep uit dat die hoogste hemele nie groot genoeg is om die Here te bevat nie. Die hemele met al die sterre en planete, selfs die troonkamer van die Here kan Hom nie bevat nie. In ’n sekere sin is dit dus verregaande dat die Here in ’n mensgemaakte tempel wou woon. Eintlik verwonder Salomo hom oor die feit van Immanuel. Dit is wel vir ons ook bewonderenswaardig. Die hemele kon die Here nie bevat nie, toe kom Hy aarde toe om sy woning onder sondaars te vestig. God die Seun het mens geword. Die hemele kon Hom nie bevat nie, wat nog die liggaam van ’n mens. Die Here het ter wille van ons verlossing ons natuur aangeneem. Dit is die diepste bevestiging van God se voorneme om as God onder sy volk te woon. Die feit van die Here se inwoning het dan vir Salomo gedring tot ’n:

Appél op Immanuel

Salomo bid dat die Here sy gebede sal verhoor wat hy as kneg na die Here se woonplek toe bid. Dit het verwys na gebede wat hy spesifiek in aanbidding sou bid om die volk te lei. Dit is dus die feit van God se inwoning wat leiding aan sy volk sou verskaf. Daarom moes die Koning en die volk hulle leiding in gebed soek. Dit moes egter gebede wees in onderwerping aan sy kneg. Die finale Kneg van die Here is dan Jesus self. Hy is uit die nageslag van Dawid met die Gees gesalf om sy taak as God se Kneg vir sy volk te volbring. Christus is dus die bevestiging van God se inwoning, maar ook die Here se volmaakte Kneg. Daarom kon die hele volk uiteindelik in vertroue tot God bid.Die hele volk moes uiteindelik na die tempel bid in navolging van God se kneg. Hulle moes vertrou in God se heerskappy. Hulle vertrou ook dat God werklik onder hulle woon. Hulle vertrou dat hulle daarom vergifnis sal ontvang. Die oortuiging waarmee ons dus moet bid is die inwoning van die Here. Ons kan in Christus se Naam bid. Hy wil ons vergewe, want Hy wil onder ons woon. Hy wil as’t ware in ons woon. Daarvan is die Heilige Gees ’n bewys. Hy tree vir ons in wanneer ons nie weet hoe om te bid nie. Ons het die belofte dat God vir ewig onder ons sal woon. Bid dus in vertroue tot die God wat onder ons kom woon het.